Die 500 vroue kon rondsnuffel tussen doelmatige stalletjies, verrassings ontdek in propvol geskenksakke en heerlik saam met vriendinne kuier en hulle siele vul met waardevolle pitkos vir die lewe.
Die tema vir die dag was 'Mooimaak Inspirasie'. Die sprankelende Moria Sewald, aanbieder van Maatband op KykNet, het vir die gaste dagroom vir hul siele met drie hoofbestanddele uitgepak.
"Elke vrou is uniek en jy behoort nie jou innerlike met onkruid soos haat, jaloesie en negatiwiteit te besoedel nie. Kyk in jou hartspieël, evalueer jouself en kyk met nuwe oë na jouself en na almal met wie jy daagliks jou lewe deel. En as jy jou oë soggens oopmaak en jy voel af, maak of jy goed voel en gou voel jy beter. Sien God in die mense om jou, hê hulle lief soos God jou lief het. Leef uit genade en met blydskap en oorgawe," het sy gesê.
Estie Shreiber, bemarkingsbestuurder van SA Natural Products en 'n geliefde stem op 10 radiostasies, het Pitkos vir 'n Gesonde Lewe, Natuurlik uitgedeel. Volgens Estie het God jou liggaam onbeskryflik wonderlik gemaak.
"Respekteer jou kosbare liggaam, kry genoeg oefening en slaap. Moenie te veel aanvullings neem wat skadelik kan wees of net regdeur jou liggaam spoel nie."
Lizette van der Westhuizen van African Sales Company het aan elke vrou 'n klein botteltjie parfuum van Hugo Boss geskenk. Sy sê dat parfuum met jou emosies praat en dat dit die finale item is wat jy aantrek. Koop slegs parfuum wat by jou styl pas en bêre dit in 'n koel, donker plek.
Die vroue het die uiters bekwame dr Herman en dr Adrie van Skin Logic George met verwondering gade geslaan. Hulle het vir visueel aan die gaste gewys hoe velveroudering plaasvind. Vanaf 30 jaar begin die vel veran-der, die vet sak af en die been verdun. 'n Mens kan kollageen in die vel stimuleer deur reg te eet en produkte met vitamien C, A en D vir jou vel gebruik.
Faktore wat sleg is vir jou vel is rook, stres en die son. Gebruik altyd 'n sonskerm met die hoogtste sonfaktor, eet gesond en drink baie water. Hierdie bekwame dokters doen ook laser behandelings en chirurgiese behandelings. Hulle waarsku egter dat te veel behandelings 'n mens dalk soos 'n windhond agter op 'n bakkie kan laat lyk.
Elke vrou teenwoordig is ook met 'n geskenk-bewys vir 'n Visia Complexion skin analysis bederf.
Die wonderlike dag is na 'n smaaklike ete deur Tertius Nel van Pine Lodge en sy helpers van Hoërskool Outeniqua met die gaskunstenaar, Louis Loock, afgesluit. Met sy pragtige, humoristiese verhoogspersoonlikheid en sy talent-volle diep stem, het hy in verskillende genres 'n paadjie tot in elke vrou se hart oopgesing.
Outeniqua Dames Aktueel bedank al die ongelooflike kunstenaars. "Baie dankie aan ons nuwe hoofborg, Just Water, ons senior borge, Skinlogic, Dis-Chem, Media 24, Fine Design Interiors, Buffelsdrift, Anstro, Die Ou Pastorie, Hannelie Hurter – grafiese kunstenaar, Eden gemeente wat die venue en klank beskikbaar gestel het, alle ander borge en elke dame wat teenwoordig was."

Die gaste het die oggend terdeë geniet.

Moria Sewald, seremoniemeester en gasspreker, saam met Magdaleen Smook.

Louis Loock het die vroue bekoor met sy sang en verhoogpersoonlikheid.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Klein Karoo nuus'