GEORGE NUUS - Bok van Blerk se optrede by die Bush Lapa Musiekfees op 21 Desember gaan 'n besonderse gebeurtenis wees - nie net vier hy die eerste dekade van sy musiekloopbaan nie, maar dit is ook die musiekfees se 10de bestaansjaar.
Bok het spesiaal 'n boodskap vir sy aanhangers by die musiekfees gestuur: "Dit is my eerste keer in die Bush Lapa en ek sien baie daarna uit!
"Ek was nog altyd mal oor Heroldsbaai.
"Ek en my band bring vir julle 'n hele sak vol pret, plesier en lekker musiek. Sien julle 21 Desember!"
Bok, die "vermaaklikste boksoort" (volgens sy webwerf), is bekend daarvoor dat hy musiek maak wat die kol tref en by alle Suid-Afrikaners aanklank behoort te vind.
Hy hou ook sy lyf gereeld akteur en spog met meer as 163 000 volgelinge op Facebook, 105 000 op Twitter, CD-verkope van by die half miljoen en 'n lang lys toekennings.
Hy het vanjaar verras met 'n hele album, Van De La Rey tot nou, wat binne die eerste week goue status bereik het.
Adam, oftewel Kyle Grant, Reynardt Hugo en Hugo Ludik.
Fees skop af met gewilde Adam
Die gewilde popgroep Adam skop die Bush Lapa Musiekfees vanjaar af wanneer hulle op 20 Desember hulle buiging maak.
Adam (Hugo Ludik, Reynardt Hugo en Kyle Grant) is een van die mees produktiewe groepe vandag in Suid-Afrika. Hulle het 'n aangename, vars klank met 'n tikkie volwasse kontemporêre invloed.
Hul jongste album, Hoogtevrees, uitgereik in September, volg op drie suksesvolle albums en 'n kortspeler saam met Daniel Baron.
Die eerste drie albums, Adam (2011), Vir jou gemaak (2012) en Goud (2014) het almal goue status bereik.
Die Bush Lapa Musiekfees word gehou in die aardse, gesellige Bush Lapa-venue wat deel is van Herold's Bay Resort in die pragtige landelike omgewing van Heroldsbaai.
Kuier saam met familie en vriende aan tafels naby aan die verhoog.
Smaaklike potjiekos en ander etes kan geniet word.
Kaartjies wissel van R60 tot 180 en is beskikbaar by www.webtickets.co.za.
Besoek http://heroldsbayresort.co.za vir meer inligting of bel KD by Herold's Bay Resort by 044 851 0113 of stuur 'n e-pos na marketing@heroldsbayresort.co.za.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'