Dit is egter 'n jammerte dat haar man, Helgard, reeds oorlede was toe die boek uiteindelik die lig gesien het.
Alhoewel sy voltyds boervrou was, het haar belangstelling in die familiegeskiedenis haar gemotiveer om inligting in te samel en interessanthede neer te skryf vir 'eendag' wanneer sy wel die tyd sou hê om dit te boekstaaf.
Toe hul seun die boerdery oorneem, het sy die daad by die woord gevoeg en volstoom aan die werk gespring.
In die boek fokus sy op die geskiedenis van die vroeë Terblanche-families, maar sy het haar navorsingsveld beperk tot die streek ooswaarts van die Kaap tot Groot-Brakrivier en noordwaarts na die Outeniquaberge.
Volgens Phyllis is die rede hiervoor dat die Terblanche'e saam met die Van der Watts, van die eerste boere in hierdie gebied was.
"'n Mens kan sê dat hulle baanbrekers van Groot-Brakrivier was," meen Phyllis.
Op 'n bepaalde tydstip het die weduwee Petronella Terblanche, haar seun en kleinseun 'n indrukwekkende 10 146 morg besit in die omgewing van Klein- en Groot-Brakrivier.
Die boek vervat nie net allerhande interessanthede aangaande die wel en weë van die Terblanche'e nie, maar ook oor hulle verwantskap met die Pinards of Pienaars, die Meyers, die Ferreiras, die Marxe, Markus- of Marks-familie en baie ander ou families rondom Mosselbaai.
In sy geheel bied die boek, met sy veelvoud, pragtige kleurfoto's en -sketse, 'n uitstekende kultuurhistoriese agtergrond van die lewe aan die Kaap gedurende die 18de en 19de eeue wat betref grondbesit, huisraad en ander besittings.
Vir navrae rakende 'Terblanche-land', kontak Phyllis Terblanche by 083 654 9900. Eksemplare van die boek kan bekom word teen R250 per kopie.
Met die eerste oogopslag, 'n pragboek vir elke Terblanche-koffietafel.
ARTIKEL EN FOTO'S: CORNELLE CARSTENS, MOSSEL BAY ADVERTISER-JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'