Video
TUINROETE NUUS EN VIDEO - In die paar maande sedert die suksesvolle vrystelling van haar nuuste enkelsnit, Life is Good, het die kabaretster, Petronel Baard, nog net van krag-tot-krag gegaan.
Dié liedjie, wat in Oktober verlede jaar uitgereik is, is uitstekend ontvang en het bo-aan die treffersparades van verskeie radiostasies gekuier, dit terwyl die musiekvideo ook reeds deur duisende mense op sosialemedia gekyk is.
Om verder voort te bou op die afgelope paar maande se sukses, het sy ook pas aangekondig dat sy vanjaar weer by die Klein Karoo Nasionale Kunstefees (KKNK) te sien gaan wees met haar nuutste kabaretvertoning, Musiek van die Lang Vrou: Die Heelal Draai, wat inhoud van haar mees onlangse album, Die Heelal Draai, gaan bevat.
Hierdie vertoning maak sy buiging twinting jaar na haar eerste solo-vertoning by die fees.
Die stuk, wat deur Petronel self geskryf en deur Langvrou Produksies vervaardig is, sal nie net haar eie talent as sangeres en pianis ten toon stel nie, maar ook die van Schalk Maas (sanger, kitaar- en mondfluitjiespeler), Altan Ungerer (baskitaar- en kitaarspeler, perkussie en sanger van die groep Soetmelk) en Boesman Keyser (saksofoonspeler). Hulle vertoning sal op 27 en 28 Maart 2020 by die Windpomp Restaurantteater in Oudtshoorn plaasvind.
Kaartjies kan op Computicket bespreek word om teleurstelling te voorkom.
Buiten hiervoor, stel Petronel ook eersdaags ’n musiekvideo vir Akkerblare, een van die gewildste snitte op haar album, aan die media bekend. “Die musiekvideo vir Akkerblare is gebaseer op ’n video deur Maritza, ’n sangeres uit Portugal, omdat Die Heelal Draai deels geïnspireer is deur die Portugese Fado-styl. Dit is egter totaal uniek en deel Suid-Afrikaanse beelde en woorde wat gebou is rondom die tema van eensaamheid. Dié projek, wat die werk van kunstenaar Wilhelm Vincent is, is in Ruiterbos in die Weskaap verfilm. Die styl is simplisties en outentiek om die musiek te ondersteun, en die fokus op die fadista en haar instrumente te plaas.”
Kyk die video hier:
Ter voorbereiding vir die KKNK, doen Petronel ’n blitstoer Kaap toe om saam met Soetmelk te oefen en op te tree voordat sy alleen verder toer.
Die kunstenaar het verder ook ’n vol program en tree gereeld by plekke en funksies in Grootbrak en Klein Brak op, waaronder Salty River Beer House en Fynbos Paradys Blommemark. Op 14 Maart, is sy ook te sien by die Grootbrak Fragrance Festival.
Sy werk ook tans aan ’n nuwe projek, Seek the light, saam met Crystal Blaq Entertainment van KwaNonqaba. Dit sal op Werkersdag vrygestel word. “Die liedjie gaan oor armoede en klasseverdeling. Dit spog met ’n huis-/ transmusiekstyl wat iets heeltemal anders is as waaraan ek gewoond is. Gavin Jay is ’n uitstekende kletsrymer en die manier waarop ons stemme mekaar aanvul, maak die eindresultaat baie interessant,” vertel Petronel.
Vir meer inligting, besoek haar Facebookblad of www.petronelbaard.com
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'