Saterdag was die 'Koffee Waardering' byeenkoms by die gewilde Transkaroo Restaurant saam met sjef Stefan Jamneck net nog een van die talle hoogtepunte en kon gaste meer te leer oor koffie, daardie daaglikse, onontbeerlike kafeïene wat die mensdom vroegoggend aan die gang kry.
Sjef Stefan was beïndruk met die bywoning en die breë belangstelling in koffie. Die koue buite was gou vergete met die warm kaggel wat binne geknetter het, terwyl hy sy kennis gedeel en vars koffiebone gemaal het. Gou het almal 'n lepel vol vars gemaalde koffie in 'n koppie gekry. Gaste is, soos met wynproe, aangemoedig om die aroma van die vars gemaalde koffie in te adem om die smaak deur die neus te waardeer.
Na warm water oor die gemaalde koffie gegooi is, is gaste aangeraai om die koffie van 'n eetlepel af op te slurp om so die volle smaak oor die hele tong te ervaar en te geniet.
Die dominerende karaktereienskappe van die aroma, geur en smaak is deur elk verwoord waarna elkeen sy of haar ervaring op merkstaat neergeskryf het deur op aspekte soos die suurgehalte, nasmaak, soetigheid, volrondheid en algehele smaak te let.
Drie afsonderlike soorte koffie, te wete Indian, Nicaraguan and Ethiopiese koffie is op hierdie wyse geproe en beoordeel. Almal het hierdie ervaring werklik geniet en heel gou is daar na hartelus geslurp namate elk 'n persoonlike voorkeur ondersoek het.
Die interessante oggend is afgesluit deur waardevolle wenke wat menige gas tuis sal toepas om kuiergaste te verras met voorkeur koffie.

Gaste het die koffiekennis wat sjef Stefan Jamneck met hulle gedeel het, letterlik opgeslurp.
ARTIKEL: ELAINE VAN DER TOON
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai | Tuinroete nuus'