Dit is vanjaar besluit om van die musiekproduksies na Baron van Reedestraat te verskuif om die feesgees daar op te kikker.
Die fees is Saterdag met die knip van 'n lint in Baron van Reedestraat geopen. Toe die son sak, het vuurdansers en 'n laer-en-ligvertoning gevolg as deel van die viering van "die Baron."
"Dit moet dié plek wees waar jy die KKNK-gees ervaar," het Rhodé Snyman, Absa KKNK se waarnemende uitvoerende hoof gesê. Sy het ook verduidelik dat van die musiekproduksies teruggeskuif is na die hoofstraat, Baron van Reede om die straatfeesgevoel weer terug te bring na die oorspronklike hartklop van die fees.
Gewilde produksies
Volgens Suzaan Keyter, mediabeampte, is daar buitengewone goeie kaartjieverkope vir die sangduet Hart en see deur Laurika Rauch en Elvis Blue. Ander produksies wat goeie aftrek gekry het, sluit in Ballade van 'n Banggat, Vir Ewig en Altyd, Land van Skedel, Die Buite-egtelike Oupa, ddbb... Dowwe Dolla betaal belast.
Van die verhoogproduksies wat goeie aftrek gekry het, is Finding Emo, Die-hoe-se-wat-se-wie-nou-weer?, Boeing - Boeing, macbeth.slapeloos, Rondomskrik, Country Legends en Vriende, Theuns Jordaan, Shirley Valentyn, Braai, Steve Hofmeyr, Die Naaimasjien, My Boetie se Sussie se Ou, Hol Marion!, Boesman, my seun en Wie`s bang vir Virginia Woolf?
Vanjaar is daar ook 'n Kunskwartier-kunsroete wat in die hartjie van die fees aangebied word met 'n wye reeks visuele kunswerke wat ten toon gestel word. 'n Historiese wandeltoer begin by St. Judes Anglikaanse kerk tot en met 4 April daagliks. Vir meer inligting, raadpleeg die program of besoek die webwerf: www.absakknk.co.za.
Kaartjies is beskikbaar by Computicket. Die fees eindig op Saterdag 5 April.

Karin Zoid en Zolani tydens hulle optrede by Klub Al Capole. Foto: Hans van der Veen

Thandi Klaassen (83), links, saam met Karen Zoid en Dorothy Masuka Sondagaand tydens die Klein Karoo Pops-konsert op die Oudtshoorn-sportterrein. Foto's: Hans van der Veen
'Ons bring jou die nuutste Klein-Karoo, Tuinroete nuus'