Die Kleuter-Zone-bedrogspul is tans groot nuus.
Vars in ons geheue is die kleurryke advertensies op TV met gelukkige kleuters en 'n klompie bekende TV-, veral sepiesterre, wat die projek adver-teer - in sekere gevalle sonder hul medewete.
Hierdie KleuterZone-advertensies het gepaard gegaan met advertensies vir beleggings met uitsonderlike hoë opbrengste. Die beleggers in KleuterZone was natuurlik hoogs teleurgesteld en vele van hulle het groot hoeveelhede geld verloor.
Viviers Brokers-slenter
Daar is onlangs in die nuus oor die Viviers Brokers-slenter berig. In hierdie geval het swendelaars 'n webwerf in die naam van Viviers Brokers, 'n opreg geregistreerde maatskappy, geskep, natuurlik met vals telefoonnommers, bankbesonderhede, ens., en beleggings met buitengewone opbrengste geadverteer.
Die swendelaars het groot beleg-gingsbedrae ontvang. Natuurlik met geen opbrengste vir die beleggers nie, en toe hulle agterkom hulle is met 'n slenter gevang, was dit te laat. Een belegger het R1,4 miljoen verloor, 'n ander een blykbaar R1,5 miljoen en 'n bejaarde slagoffer van Krugersdorp is R750 000 kwyt. Die swendelaars het in hierdie geval baie gebaat by die goeie naam wat die ware Viviers Brokers oor baie jare opgebou het.
Soos gesien kan word in bogenoemde twee gevalle word voornemende beleggers oorreed en oortuig deur bekende en gerespekteerde persone en maatskappye, wat sonder hul medewete deur vals advertensies misbruik word.
Vele sulke gevalle is vars in ons geheue. Dink maar aan Francois Pienaar en Victor Matfield wie se foto's ook al in die verlede só misbruik is, asof hulle die belegginswendel sou ondersteun.
AfriRykdom X-slenter
Nuut is AfriRykdom X, waar Elon Musk kwansuis Afrikaners wil verryk. Die advertensie lui dat beleggers met 'n beleggingsbedrag van R4 500 tot R58 000 per week kan verdien.
In hierdie geval word Afrikaners ge-teiken, aangesien hoofsaaklik Netwerk 24-intekenare (meestal Afrikaanssprekendes) op hierdie belegging geregtig is.
Daar word ook genoem, omdat slegs Afrikaners hierby kan baat, dat die regering kwansuis die bekendmaking en openbare advertering van AfriRykdom X sterk onderdruk.
In advertensies en bemarking van AfriRykdom X word Elon Musk betrek om Afrikaanssprekende mense te probeer oortuig om te belê, en dan sal hy hulle natuurlik met sy groot rykdomme help.
In die vervaardiging van sulke adver-tensies word grootliks kunsmatige intelligensie gebruik om oortuigende videos te maak.
Alhoewel AfriRykdom X 'n nuwe slenter is waarmee gewetenlose swen-delaars probeer om die publiek uit hul swaarverdiende geld te bedrieg, bly die resep vir hierdie tipe swendelary maar dieselfde. Wees baie versigtig!
Wenke om jouself teen beleggingsbedrogspulle te beskerm:
• Wees baie skepties vir enige beleggings wat uitsonderlike hoë opbrengste belowe.
• Wees versigtig indien bekende persone of instansies die skema kwansuis ondersteun.
• Verifieer die wettigheid van die skema. Selfs 'n paar eevoudige soektogte op Google kan in hierdie geval help.
• Pasop vir skemas wat uitsluitlik op sosiale media geadverteer en versprei word.
• Moet nooit jou persoonlike en finansiële inligting op sosiale media of telefonies aan enige party gee wat jy nie ten volle vertrou nie.
Prof. Rossouw von Solms is 'n emeritus professor en lid van die Sentrum vir Navorsing in Inligting en Kubersekerheid aan die Nelson Mandela Universiteit.