OPINIE - Hoe het 2025 jou behandel?
Indien jy ’n goeie jaar beleef het, kan jy jouself gelukkig ag. Nie almal kyk terug op die afgelope jaar met ’n glimlag op hul gesigte nie.
Vir dié wat vanjaar iemand aan die dood afgestaan het, of nóg ’n Kersfees sonder ’n geliefde moet deurmaak, is die feestydperk waarskynlik iets wat jy eerder probeer deursien as vier.
En verlies beteken nie net dood nie.
As jy ’n vriendskap verloor het, met jou gesondheid sukkel, jou werk verloor het, of deur ’n egskeiding moes gaan, sal jy weet: verlies neem baie vorme aan. Miskien het jy finansiële verlies ervaar?
In ons nuuskantoor het ons in 2025 oor talle stories van verlies berig. Ons luister na mense se verhale en deel dikwels in hul pyn.
Dit sluit die dood van geliefdes in, maar ook gesprekke met families wat deur misdaad geteister word. Die verlies aan ’n gevoel van veiligheid ís ook verlies.
’n Mentor het onlangs vir my gesê die lewe is nie gemaak om agtertoe te beweeg nie - ons móét vorentoe kyk.
Die lewe self is immers die bewys daarvan: dit beweeg nooit terug nie, net vorentoe. Die dae stap aan, of jy saamstap of nie. Niks kan oorgedoen word nie.
Dit is egter makliker gesê as gedaan. Ekself worstel dikwels met dinge van die verlede wat ek, indien ek in tyd kon teruggaan, beslis anders sou wou doen.
Baie van ons dra spyt saam. Ek ook.
Ek weet nie wat jy sou wou oordoen indien jy in die verlede kon teruggaan nie. Ek weet wel pyn en geluk kán parallel langs mekaar loop.
Jy kan weer vorentoe beweeg al verdwyn die seer van die verlies nie, maar verdof net. Jy leer om daarmee saam te leef.
Ek weet nie wat 2025 vir jou gebring het nie. Maar in die daaglikse nuuswêreld en dit wat ons in ’n nuuskantoor sien, weet ek hoe vinnig alles kan verander. Ek weet hoe dankbaar ons moet wees, al is alles nie perfek nie.
’n Bejaarde man wat ek geken het en wat intussen oorlede is, het eendag gesê toe iemand in die geselskap aanhoudend na iets wat in die verlede gebeur het verwys: “Jy moet versigtig wees om heeltyd in die truspieël te kyk. Netnou ry jy teen ’n boom vas.”
Neem tyd voor 31 Desember om oor jou jaar terug te dink sodat Oujaarsaand nie net nóg ’n datum is wat midde die geraas aanrol na die nuwe jaar nie.
Neem tyd om te reflekteer sodat jy daadwerklik kan probeer vorentoe kyk.
En onthou: dit is nie vir almal ’n feestydperk nie. Baie van ons sit met halwe harte om die Kerstafel. Baie van ons sit alleen.
Nietemin is my wens vir al ons lesers, vir dié wat vakansie hou en dié wat werk, dat jy êrens voor die jaar tot ’n einde kom stilte sal vind. Dat jy jou jaar sal afsluit.
En as jy dit kan regkry, al voel jy soos iemand met ’n halwe hart, weet net, daar sit baie van ons halwehart-mense om dieselfde tafel, al kan jy dit nie op die oog af sien nie.
Wees sag met jouself die Desember en met die mense om jou, en moenie teen die boom vasry nie.
Louise Karsten is die redakteur van Mossel Bay Advertiser.
Disclaimer: The opinions expressed in this article are those of the author. They do not purport to reflect the opinions or views of Group Editors and its publications.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’