BLOG - Die manlike menopause of andropause is 'n mediese toestand wat middeljarige en ouer mans tref.
Spesifiek "tref" omdat die meeste mans en hul vroulike eweknieë niks van die toestand weet nie.
Die ekwiwalent van die andropause is die menopause by vrouens, wat goed bekend is onder vrouens en mans. Die menopause word volledig beskryf in algemene- en vroue tydskrifte, sodat die vrou weet wat besig is om met haar te gebeur en emosioneel en sielkundig voorbereid is op die simptome waarvan warm gloede die algemeenste is.
Soos estrogeen produksie deur die ovaria by 'n vrou geleidelik verminder, gebeur dit dat testosteroon in die andropause al hoe minder deur die testis afgeskei word. Die simptome van andropause manifisteer geleidelik van in die laat veertiger jare tot in die sestigs.
Die simptome kan wissel van min of geen simptome tot erge simptome, wat mans se lewenskwaliteit erg kan affekteer.
Simptome wissel van moegheid, verlies aan konsentrasie, emosionele veranderinge, depressie, verminderde libido en ook erektiele disfunksie. Daar kan ook fisiese veranderinge soos verminderde spierkrag, veranderde distribusie van vet, bv waar 'n man spiermassa in sy bene sal verloor en meer vet om die middellyf sal ontwikkel.
Die simptome en tekens kan ook deur depressie, onderaktiewe skildklier en ander mediese toestande veroorsaak word, daarom moet ander toestande eers uitgeskakel word deur bloedtoetse voordat die diagnose van andropause gemaak kan word.
Effekte
Mans sal by dokters aanklop met allerlei vae klagtes van moegheid tot in die algemeen dat hy nie homself en/of lekker voel nie. Mans sal ook sê hul vroue het hul gestuur met die opdrag dat die dokter hul moet ondersoek, want hul is nie meer die man wat hul 10 of 15 jaar gelede was nie.
Soms sal die vrou die man vergesel en sê die man se seksuele belangstelling nie meer is wat dit was nie.
Hierdie situasie veroorsaak baie frustrasie en onsekerheid by man én vrou. Die man weet dat die vrou wonder oor sy verminderde belangstelling, maar hy kan nie veel doen om dit te verhelp nie.
Vroue kan voel dat hulle nie meer aantreklik en "sexy" vir hul mans is nie, en/of beskuldig mans dat hul nie meer belangstel nie, óf dat hul 'n buite egtelike verhouding het.
Die spanning wat dit op 'n man plaas kan erektiele disfunksie vererger, wat die man verder intimiteit laat vermy.
Dit is verskriklik belangrik dat mans wat kom raad vra, hul vrouens moet vertel dat hul wel die dokter besoek het en wat die diagnose is.
Dit laat 'n vrou meer gerus voel wat baie goed is vir 'n verhouding. Ek nooi gewoonlik die man om sy vrou met 'n volgende besoek saam te bring, sodat al die vrae beantwoord word en onsekerhede en misverstande uit die weg geruim word.
Dit moet besef word dat sommige van die simptome normaal is en deel is van die normale verouderingsproses. Om die diagnose te bevestig moet 'n bloedtoets vir testosteroon gedoen word.
Testosteroon word geïnaktiveer in die dermkanaal en die enigste behandeling is inspuitings met testosteroon, nl 'n kortwerkende inspuiting elke drie tot vier weke.
Daar is ook 'n langwerkende inspuiting wat drie tot vier maande hou, maar duur is teen ongeveer R3 000 per inspuiting.
Die inspuiting se effektiwiteit wissel van baie goeie respons tot byna geen respons. Daar moet altyd ook bloed vir PSA (merker vir prostaatkanker) getrek word, voor behandeling begin word.
Indien enige verdere navrae, sien jou algemene praktisyn of uroloog.
Dokter Lappies woon op Groot-Brakrivier en het lank daar praktiseer. Hy het onlangs sig in beide sy oë verloor ná twee afsonderlike fratsongelukke. Hy het egter steeds 'n passie vir sy beroep en het hom voorgeneem om met behulp van sy vrou vir Mossel Bay Advertiser rubrieke te skryf.
Disclaimer: The opinions expressed in this article are those of the author. They do not purport to reflect the opinions or views of Group Editors and its publications.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’