MOSSELBAAI RUGBY NUUS - 'n Nuwe bestuur vir die Barbarians-rugbyklub is vroeër vandeesmaand verkies.
Die Mossel Bay Advertiser het 'n paar vrae aan die bestuur gerig om te hoor wat hulle toekomsplanne is.
Volgens die voorsitter, Vernon Seconds, is die interim-bestuur 'n gesonde mengsel van oud en jonk, asook beide geslagte, mans en vroue. Dit bestaan uit lede wat al voorheen by die klub en ander sport betrokke was. "Hierdie 'mengsel' sluit in lede van die bankwese, plaaslike owerhede, PetroSA, onderwysers en selfs geestelike leiers. Ons kan elkeen se potensiaal benut tot voordeel van die klub."
• Wat is die nuwe bestuur se gevoel oor die verdeeldheid wat onder ondersteuners van die klub ontstaan het?
Om almal gelukkig te hou is 'n onmoontlike taak. En in ons beskeie opinie het die verdeeldheid bloot onstaan as gevolg van 'n gebrek aan deursigtigheid. Dit het tot gevolg gehad dat die publiek hulle eie gevolgtrekkings rondom sekere gebeure gemaak het. En almal, kon sien hoe die "moddergooiery" die klub skade berokken. En as die interim bestuur is dit ons taak om die foute wat begaan is in die verlede nie te herhaal nie.
• Wat is die groot mikpunte vir die nuwe seisoen?
Barbarians is al 'n huishoudelike naam in die Suid-Kaap en dit is vanselfsprekend dat ons mikpunt altyd sal wees om die groot uitdaagbeker te wen aan die einde van die seisoen. Verder wil ons ook poog om die negatiewe wolk wat oor die klub hang te verwyder. Ons wil almal net weer herinner oor hoekom en waarom hulle al die afgelope 26 jaar voluit die Barbarians ondersteun. Ons het korttermynplanne waaraan ons werk, sowel as langertermynplanne. Ons idee is dat die volgende groep bestuurslede 'n positiewe en soliede fondasie het om op voort te bou. So ons wil iets bou hier by Barbarians wat onderhoubaar is vir toekomstige spelers, bestuur, ondersteuners ens.
• Hoe gaan spelers en die klub opgebou word?
Om die spelers op te bou, vat ons dag vir dag. Die Engelse het 'n spreekwoord wat lui, "How do you eat and elephant? Bit by bit!" - dit is hoe ons dit aanpak. Die spelers is die kern van die klub. In hierdie stadium, fokus ons ons energie op hulle sowel as die nuwe afrigtingspan.
• Wat hoop die nuwe bestuur om die klub en ook die gemeenskap te bied?
Om bloot weer 'n veilige plek te skep waar elkeen hulself kan geniet en kan uitleef. Om die D'Almeida-rugbyveld op 'n Saterdag te sien uit sy nate bars, is iets om te beleef.
• Wat is julle bestuursbeleid of die gees waarin julle die klub wil bestuur tydens julle termyn?
Ons tema (voorstel) is een van integriteit, aanspreeklikheid en bemagtiging. 'n Gees van respek vir mekaar. Iets in die lyn van Rom: 12:21: "Moet jou nie deur die kwaad laat oorwin nie, maar oorwin die kwaad deur die goeie." Ons verstaan dat geloof, gebed en dade hand aan hand gaan en dat ons in ons werk in ons gemeenskap en rugbyklub, op geen beter manier ons geloof kan bewys deur te doen wat reg is nie.
Nuwe bestuur
Die nuwe bestuur sien as volg daaruit: Voorsitter: Vernon Seconds; onder-voorsitter: Chestlin Pieterse; sekretaris: Edward Maart; hulp-sekretaris: Linda Brown; tesourier: Reagan Pienaar; hulp-tesourier: Roy Sparks; klubkaptein: Leon Briesies; addisionele lede: Eldritch Kiewiet, vader Hennie Petersen, vader Robin du Plessis en Gerald de Jager; spelers verteenwoordiger: Reduan London.
Barbarians-rugbyklub se nuwe bestuur.
'n Nuwe seisoen het aangebreek vir Barbarians-rugbyklub. Die interim-bestuur het hieroor met die Mossel Bay Advertiser gesels.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'