RUGBY NUUS - Op Vrydag, 18 Mei, het die Hoër Landbouskool Oakdale en Paarl Gimnasium se eerste muurbalspanne kragte gemeet. Beide spanne is goed ondersteun en het puik muurbal gespeel. Die span van Oakdale troef Paarl Gimnasium met 'n telling van 12-2.
'n Reusesportdag is Saterdag, 19 Mei op die terrein van Hoër Landbouskool Oakdale aangebied toe 20 rugbyspanne van die Hoër Landbouskool teen Paarl Gimnasium deelgeneem het. Dit was uit die staanspoor duidelik dat die Oakdalers hard vir hul punte sou moes werk.
Uit die 20 wedstryde het sewe Oakdale-spanne as die oorwinnaars van die veld gestap. Die eerstespanwedstryd was 'n drieë-fees en 'n skouspel van aantreklike skolerugby. Dit was egter die Oakdalers se verdediging wat hulle veral in die tweede helfte in die steek gelaat het om die wedstryd met 39-47 te verloor.
Die o/15 A-span het die bordjies verhang na die nederlaag in 2017. Hulle wen Saterdag se wedstryd 5-0 met 'n drie in die laaste minuut deur Simeon Oosthuizen (13).
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'