MOSSELBAAI RUGBYNUUS - Na 'n lang uitgerekte proses om die nodige toestemming te bekom om weer eens met oefeninge te begin, voldoen Mosselbaai-rugbyklub nou aan die nodige protokol ten opsigte van die Covid-19-regulasies en kan belangstellendes dus aanmeld vir die weeklikse oefensessies.
Hierdie goedkeuring kom van SA Rugby, SWD Rugby asook die Mosselbaai-munisipaliteit. Alle nodige Covid-19-voorsorgmaatreëls is in plek en sal streng nagekom word.
Alle oud-spelers sowel as enige nuwe belangstellendes word uitgenooi om Dinsdae en Donderdae by die Van Riebeeckstadion in Mosselbaai aan te meld vir oefeninge wat voorlopig geen kontakrugby insluit nie. Almal moet ook voorsiening maak vir hul eie waterbottel.
Die oefensessies op Dinsdae en Donderdae begin om 18:00.
Voornemende en belangstellende afrigters word gevra om hul CV's na Gerald Glover by glovergerald66@gmail.com of Leon Gouws by leongouws51@gmail.com te stuur.
"Ons hou almal styf duim vas dat daar eersdaags met klubrugby begin kan word en sien dus uit om die spelers te kondisioneer om reg te wees sodra hierdie aankondiging gemaak word," sê Gerald Glover van die Mosselbaai-rugbyklub.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'