MOSSELBAAI NUUS - In 'n klipharde wedstryd het Mosselbaai se premierligaspan, Barbarians, Saterdag, 23 Maart die 2019 SWD-rugbyseisoen op 'n hoë noot afgeskop toe sy eerstespan Heidelberg met 20-13 gewen het.
Barbarians se B-span het Heidelberg met 31-10 geklop, terwyl die Mosselbaaiers se C-span Heidelberg met 26-5 kafgedraf het. Al die wedstryde is op Barbarians se tuisveld by die D'Almeida-stadion gespeel.
Soos Barbarians het Groot Brak ook Mosselbaai se naam hoog gehou en Blanco in Groot-Brakrivier met 13-11 gewen. Groot Brak se B-span het met 17-5 as wenners van die veld gestap, terwyl hul C-span met 31-5 korte mette van Blanco gemaak het.
George het Silver Stars behoorlik laat les opsê toe hulle op Outeniquapark die besoekers met 69-18 gewen het. George se B- en C-spanne het onderskeidelik 15-12 en 22-17 gewen. Evergreens het ook met al drie spanne teen Plettenbergbaai se Jaguars gewen. Die tellings was, A-span: 50-24, B-span: 69-0 en C-span: 31-12. In George het Maori's hul rieme styf geloop toe Bridgton van Oudtshoorn hulle met 37-17 oorweldig het. Bridgton se B-span spog met 'n 21-15 oorwinning, terwyl hulle C-span met 20-12 verloor het.
Naweek
Barbarians speel môre, Saterdag 30 Maart, teen Blanco in 'n wegwedstryd. Groot Brak sal na Craggs, Plettenbergbaai reis om die Jaguars die stryd aan te sê.
In Ander premierligawedstryde vir die komende naweek is Bridgton teen Progress (Oudtshoorn), Silver Stars teen Evergreens (Rosemore, George), Heidelberg teen Maori's (Heidelberg) en Crusaders teen George (Parkdene, George).
Die SWD presidentsligawedstryde vir die kusstreek, Karoostreek en Langebergstreek begin Vrydag, 5 en Saterdag 6 April.
Plettervatte was aan die orde van die dag.
Beide spanne het nie geskroom om met harde kontakspel die toeskouers te vermaak nie.
Voorlangs het beide spanne goeie dryfspel opgelewer.
Barbarians en Heidelberg se slotte rank vir die bal in 'n lynstaan.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'