Die Arende het die kwarteindronde gehaal waar hulle die gewilde Kaizer Chiefs-span met 12-0 geklop het. In die halfeindstryd het die Arende hul egter in die seëvierende Suid-Afrikaanse Akademiespan, die Samurai, vasgeloop en met 26-0 verloor.
Soos verwag het die Samurai voortgegaan en die toernooi vir die tweede agtereenvolgende jaar ingepalm deur die Titans in die eindstryd met 33-17 af te ransel.
In die uitspeelwedstryd om die derde en vierde plek het Kenia die Arende met 33-15 geklop. Bevin Fortuin, afrigter van die SWD Arende, was heel ingenome met hul vierde plek en hy reken hulle kan in die toekoms beter rekenskap van hulself gee. "Net bietjie meer tyd bestee aan ons voorbereiding en veral ons fiksheid opskerp dan sal ons beslis 'n bedreiging inhou vir die voorste spanne. Dit was beslis 'n goeie leerervaring vir die manne en sal ons ook baie help met ons voorseisoense voorbereiding."
Vir die besoekende Keniaanse span was dit ook 'n openbaring om deel te neem, het hul afrigter, Paul Treu, aan die George Mini Ads News gesê. "Die manne het nog baie om te leer, maar ons is tevrede met ons derde plek. Dit was goeie voorbereiding vir die Wêreldreeks wat later die maand afskop."
Die Titans, wat deur Jimmy Stonehouse afgerig word, het uitstekend gedoen deur die eindstryd te haal, maar die Samurai was net te afgerond en skerp. Die span, wat deur Marius Schoeman afgerig word, het gemaklik met feitlik al sy teenstanders afgereken. Hy het egter goeie teenstand van die Living Ball gekry en moes alles uithaal om met 19-5 te wen.
Living Ball het teen die SWD Arende (26-21) en die Titans (26-19) vasgeval, maar daarna mooi reggeruk en die Cheetahs met 29 -11 en Kaizer Chiefs (43-5) afgestof.
In die plaateindstryd het Living Ball die Sharks met 26-22 geklop.
Evergreens het die beste van die plaaslike klubs gevaar deur die eindstryd te haal waar Hand on Heart hulle met 29 - 12 geklop het. Evergreens het hiermee getoon dat hy vanjaar weer 'n krag in die SWD se klubkompetisie gaan wees.
Die sewestoernooi het vanjaar meer toeskouers op albei dae gelok en sou meer internasionale spanne besluit om ook deel te neem - èn mits die toernooi weer in Januarie aangebied word wanneer dit die oorsese spanne beter pas - kan die toernooi binne enkele jare dié grote in die land word en George weer vestig as die hartklop vir sewes.
SIEN FOTO'S VAN DAG 1 VAN DIE TOERNOOI HIER.
SIEN FOTO'S VAN DAG 2 HIER.
Vyande op die veld, maar groot vriende van die veld af. Evergreens en Hand on Heart van Kraaifontein het mekaar Sondagaand op Outeniquapark net na nege in die eindstryd van die klubspanne se sewestoernooi gepak. Die Kaapse besoekers het die kragmeting met 27-12 gewen en benewens die sewesklubtitel ook die eerste prys van R20 000 in hul sakke gesteek. Evergreens het as naaswenner R7 000 ontvang. Hier is die twee spanne saam net ná afloop van die eindstryd. Foto: Hugo Redelinghuys
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Klein-Karoo nuus'