FRIEMERSHEIM NUUS - Die Thistles-rugbyklub van Friemersheim het op Saterdag 5 September ’n ongelooflike 2026-liga afgesluit - nie met ’n wen nie, maar met ’n seisoen wat vir altyd in die klub se geskiedenis onthou sal word.
Die manne van Friemersheim het by Van Riebeeck-stadion teen die Ladismith-rugbyklub kragte gemeet om die SWD Eersteliga B-kampioene te bepaal.
“Die finaal was ’n ongelooflike spannende wedstryd. Thistles het uiteindelik met 29 - 31 verloor, maar die nederlaag kan geensins afbreuk doen aan wat die span gedurende die seisoen bereik het nie,” sê Enrico Gertse, ’n lid van die bestuurspan.
In die aanloop tot die halfeindstryd het die Thistles elkeen van hul wedstryde gewen, toe die halfeinstryd gewen, en uiteindelik in die eindstryd gewys hulle is ’n span om mee rekenskap te hou.
Gertse sê die Friemersheim-gemeenskap het ook gewys dat die Thistles nooit alleen op die veld staan nie.
“’n Ongelooflike 16 taxi’s vol ondersteuners het vanaf Friemersheim vertrek om die span te ondersteun. Die hoeveelheid ondersteuning en die passie van die gemeenskap was oorweldigend. Van die eerste tot die laaste minuut het die groen-en-wit-ondersteuners hul span aangemoedig en gewys dat Thistles-rugbyklub veel meer as net ’n klub is - dit is ’n gemeenskap wat saamstaan.”
Hy meen dit is ’n seisoen waarop elke speler, afrigter, bestuurslid en ondersteuner met trots kan terugkyk.
Die Thistles het ook hul opregte dank teenoor elkeen van hul borge uitgespreek. “Dankie vir julle ongelooflike ondersteuning en julle bydrae tot ons sukses. Dit beteken meer as net finansiële hulp; dit wys dat julle in ons klub, ons spelers en ons gemeenskap glo.
“’n Groot dankie gaan ook aan ons ongelooflike spelersgroep wat elke week alles op die veld gegee het, ons gedetermineerde afrigtingspan, Danie Kaptein, LeeRoy Manuals, Johannes Gertse en Andries Hills wat die span deur die seisoen gelei het, en ons dinamiese bestuurspan wat onvermoeid agter die skerms gewerk het.”
Gertse sê hulle sal hierdie seisoen as ’n leergeleentheid gebruik - in 2027 kom hulle sterker en met nuwe moed, energie en doelwitte terug.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’