GEORGE NUUS - 'n Suksesvolle strafskop binne die eerste twee minute het die besoekende Griffons seker moed laat skep vir hul SA Beker-kragmeting teen die Dotsure SWD Arende die afgelope Saterdag op Outeniquapark, maar dit het die tuisspan nie ontsenu nie.
Die Arende het daarna beheer van die wedstryd oorgeneem en met sewe drieë die wedstryd gemaklik met 45 - 24 gewen.
Teen rustyd was die Arende reeds met 19 - 3 voor ná hulle drie keer die doellyn oorgesteek het.
So halfpad deur die tweede helfte het die Griffons mooi teruggeveg en drie drieë ingeryg en al hul doelskoppe oorgesit om die telling na 38 - 24 te laat krimp.
In 'n stadium het dit gelyk of van die Arende effe tam voorgekom het en 'n agterdeur vir die Griffons oopgelaat het om inhaalrugby te speel.
Maar, op Outeniquapark voor 'n besielende tuisskare, sukkel besoekende spanne om te wen.
Dit het die Arende deeglik bewys deur ná rustyd 26 punte, wat vier drieë ingesluit het, op te stapel.
Hul verdediging was weer uitstekend en met die Arende-losskakel Fred Zeilinga wat vyf doelskoppe deur die pale gejaag het, was die Griffons se lot al in die eerste helfte verseël.
Die Arende se kans om weer Curriebekerrugby te speel, raak al beter.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’