FRIEMERSHEIM NUUS - Die Thistles-rugbyklub in Friemersheim beleef tans ’n besonderse seisoen in die SWD Eersteliga B Wes.
Die klub beklee in hierdie stadium die eerste plek op die punteleer, het tot dusver al 13 van hul ligawedstryde gewen, en werk kliphard om dié momentum te behou.
Hul 13de oorwinning was die afgelope Saterdag op hul tuisveld teen Bitou van Plettenbergbaai.
Teen rustyd was die telling 31 - 0 in Thistles se guns en in die tweede helfte het hulle dit meer as verdubbel. Bitou is met ’n allemintige eindtelling van 65 - 11 huis toe.
Thistles het altesaam 11 drieë gedruk. Dié manne was daarvoor verantwoordelik: Justin Prins, Marchall du Plessis, Wayne Prins, Craig Speelman, Wandell Piedt, Elvino Gertse, Angus Prins, Mac Juan Dyssel (twee drieë), Ruan Naude en Justin Smit.
“Wat hierdie seisoen nóg meer spesiaal maak, is die geweldige ondersteuning vanuit die Friemersheim-gemeenskap,” sê een van die span se bestuurslede, Enrico Gertse.
“Die klub het daarin geslaag om die hele gemeenskap saam te snoer, en elke wedstryd word met groot opgewondenheid beleef. Ondersteuners reis in groot getalle saam met die span om hulle aan te moedig.
“Met die onlangse wegwedstryd het ses taxi’s vol ondersteuners saam gereis om die groen en wit te ondersteun. Hierdie ongelooflike ondersteuning getuig van die trots en eenheid wat Thistles in Friemersheim gevestig het.”
Gertse sê daar is nog vyf ligawedstryde oor, en die span werk hard om ’n tuishalfeindstryd op 29 Augustus te verseker. Die klub droom ook daarvan om geskiedenis te maak deur al 18 ligawedstryde van die seisoen onoorwonne af te sluit - ’n prestasie wat ’n eerste vir hulle sal wees.
“Hierdie sukses is die resultaat van die harde werk van die spelers, afrigters, bestuur, borge, vrywilligers en die onwrikbare ondersteuning van die Friemersheim- gemeenskap. Thistles-rugbyklub is trots daarop om nie net rugby te speel nie, maar ook hoop, trots en eenheid in ons gemeenskap te bevorder,” sê hy.
Dié komende naweek reis hulle na Plettenbergbaai om die Sibanye Kings aan te vat.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’