TUINROETE | KAROO NUUS - Suid-Afrika se junior toutrekkers sê mekaar dié naweek op Mosselbaai se Van Riebeeck Stadion die stryd aan.
'n Indrukwekkende 397 spanne van regoor die land het vir die Suid-Afrikaanse Junior Toutrek Kampioenskappe ingeskryf - 'n nuwe rekord vir toutrek in SA, sê Barries Barnard, die president van die Eden Toutrek Federasie.
Die organiseerders sê ook dit is die grootste enkelsportgeleentheid vir skole in Afrika.
Mosselbaai het al in die verlede SA kampioenskappe vir toutrek aangebied, maar dis 'n eerste vir die juniors, sê Barnard.
Die jongste deelnemers is maar net 6 jaar oud en die oudstes 19.
Ook interessant van dié sport, is dat 'n span van agt (in die hoër gewigsklasse) uit byvoorbeeld sewe matrieks en een graad 8 kan bestaan - solank hulle gesamentlike gewig gelyk is aan of minder as die gewigsgrens is.
As jy die jonges in aksie wil sien en sommer terselfdertyd meer leer oor dié groeiende sport, is Van Riebeeck Stadion beslis die plek vir jou hierdie naweek.
VIDEO: Eden Toutrek se president verduidelik hoe werk die SA's
Die amptelike opening is op Vrydag, 21 Maart, om 08:30 en om 09:00 begin die aksie.
Die publiek is welkom en daar is 'n toegangsfooi van R30 vir volwassenes en R10 vir kinders.
Barnard sê daar is 21 skole uit die Eden-distrik wat ingeskryf het en dan is daar nog spanne van die Noord-Kaap, Vrystaat en meer.
Van die Mosselbaai-area is daar spanne van Hoërskool Punt en ook van Herbertsdale.
Punt-leerders by 'n vorige toutrek geleentheid.
Die Hoër Landbouskool Oakdale op Riversdal het al meer as eenmaal wêreld-kampioene in dié sport opgelewer, en is beslis 'n skool om dop te hou.
As jy nie Vrydag kan bywoon nie, is daar gelukkig Saterdag nóg 'n aksie-belaaide dag. En indien jy glád nie in persoon kan bywoon nie, word albei dae ook lewendig op SuperSport Schools uitgesaai.
Na afloop van die geleentheid sal die Senior- en Wêreldkampioenskappe vir tou-trek ook op Mosselbaai aangebied word, dié keer op Hartenbos en onderskeidelik in September 2025 en September 2026.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’