MOSSELBAAI NUUS - Tossie Steyn, bekende sakeman en sportster van Mosselbaai het verlede Donderdag geskiedenis gemaak toe hy Mosselbaai-muurbalklub se jaarlikse muurbalkampioenskap vir die 39ste keer gewen het.
Volgens Fred Orban van die muurbalklub is hierdie oorwinning van Steyn, sover vasgestel kan word waarskynlik 'n wêreldrekord in enige sportsoort wat met só 'n mylpaal bereik is.
Steyn het in die finaal van die 2021 kampioenskap teen Arthur Eilers te staan gekom. Dit was 'n harde wedstryd met Steyn wat op die ou einde met 3-0 geseëvier het.
Hy het dié titel vir die eerste keer op 16-jarige ouderdom, as 'n leerder van Hoërskool Punt verower. Twee jaar gelede het hy, en ewe bekende sakeman en sportster, Albert Wiffen saam aan die wêreldmuurbalkampioenskap in Amerika deelgeneem waar hy uitstekende resultate bereik het.
Steyn is ook 'n vooraanstaande skopbokser (kick boxer) en het 'n paar jaar gelede aan die internasionale kampioenskappe in Griekeland deelgeneem waar hy eerste in sy ouderdomsgroep geëindig het.
Mosselbaai-muurbalklub, met Wiffen as huidige voorsitter, het 'n aantal baie goeie spelers gewerf. Die klub het groot planne vir die komende seisoen en is juis nou besig met 'n werwingsveldtog vir vroue, kinders en gesinne wat hierdie gesonde sportsoort wil beoefen.
Daar sal bystand met afrigting vir beginners wees en ook gereelde sosiale aande waar saam by die klubhuis kan ontspan in ook in die vooruitsig.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'