MOSSELBAAI NUUS - 'n Fasiliteit soos nêrens elders in Suid-Afrika nie, wat elke naweek iets vir die motorsportentoesias sal bied. Só is verwys na die motorsportmekka wat vir Mosselbaai by Mossdustria beplan word.
"Een van die grootste redes vir die suksesse wat aan Mosselbaai-munisipaliteit toegedig word, is die effektiewe vennootskappe wat onderling met belanghebbendes gesluit word," het raadsheer Dirk Kotzé, waarnemende uitvoerende burgemeester tydens 'n vergadering aan belanghebbendes oor vordering van die beplande fasilieit gesê.
Die terugvoervergadering het op 'n vroeëre dorpsvergadering gevolg en is deur tientalle motorsportentoesiaste bygewoon.
Volgens munisipale bestuurder, adv Thys Gilliomee is die entoesiasme van motorsportaanhangers en beleggers 'n klinkklare aanduiding van die behoefte aan só 'n fasiliteit.
Die munisipaliteit sal die grond, sowat 30 hektaar en sekere grootmaatdienste verskaf, terwyl die onderskeie motorsportkodes hul onderskeie fasiliteite sal oprig.
Daar word ruim voorsiening vir verskeie dissiplines en fasiliteite gemaak, onder meer die brandstofdepot wat aan die standaarde van Motorsport SA moet voldoen. Daar word selfs ruimte toegedeel vir 'n toekomstige kampspasie waar groot saamtrekke gehou sal kan word.
Boonop word beplan vir sowat 80 dubbelverdieping-werkswinkels met 'n groot draaisirkel vir swaar voertuie, geleentheid vir die inrig van losies, ruim parkering, 'n verskeidenheid van handelsruimtes en kiosks, mediese en sekuriteitsfasiliteite, asook kuipe-areas doelgemaak vir elk van die onderskeie sportkodes. 'n Ovaalbaan, drag strip, drifting, spinning en fasiliteite vir nog ander tipe renne word beplan.
Tans word beplan dat die munisipaliteit die grond op 'n langtermynhuurkontrak aan 'n nie-winsgewende maatskappy, verteenwoordigend van die onderskeie sportkodes en munisipaliteit beskikbaar sal stel. Die huurders sal die fasiliteite, ook die ablusies en paviljoene oprig en bedryf.
'n Omgewingsimpakstudie word onderneem, finansiële modelle word tans ondersoek en getoets en, hoewel sekere motorsportkodes soos viertrek- en motorfietsentoesiaste, asook die super circuit-aanhangers steeds van naasliggende fasiliteite digby Bartelsfontein gebruik sal wil maak, is die reaksie en steun vir die projekvoorstelle uiters positief.
Daar was heelwat navrae aangaande wanneer die fasiliteit gebou sal word. Benewens die omgewingsimpakanalise, verg die projek nog heelwat huiswerk van die onderskeie sportkodes. 'n Deeglike openbare deelnameproses moet ook gevolg word.
Intussen is daar heelwat op die motorsportkalender waarna uitgesien kan word. Vroeg in November word 'n Autocross-byeenkoms beplan met verskeie klasse wat sal kan deelneem. Einde November wink die tweede viertrek-byeenkoms weer by Bartelsfontein. Die Daytona met 50 Supermotors waarvan talle nog nooit in Mosselbaai te sien was nie, volg die naweek van 22 Mei. Hiertydens sal Mosselbaai se strate in 'n resiesbaan omskep word.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'