Gallery
SUID-KAAP NUUS - Suid-Kaap Jagters- en bewaringsvereniging (SJB) het weer die afgelope Junie-vakansie die gewilde junior jagopleiding op 'n plaas in die Kalahari aangebied. Elf hoërskoolleerders, waarvan 10 seuns en een meisie, het die kursus bygewoon.
Die kursus het dit ten doel om die historiese jagkultuur aan die jeug oor te dra asook hoe om die begrip "volhoubare benutting" prakties uit te leef.
Sommige van die leerders het ook SJB se veldskool bygewoon wat elke jaar vir laerskoolleerders aangebied word. Al die leerders moes eers module 1 van die junior jagopleidingskursus voltooi voordat hulle kon kwalifiseer vir module 2 van die junior jagopleiding.
Hierdie laaste gedeelte van die opleidingskursus het die geleentheid gebied aan elke student om onder mentorskap sy voorsitplek te kon kies en voor te berei, eie springbok te skiet, reg te ontwei en verder die vleis te bewerk. Kursusmateriaal sluit in die aanvanklike beplanning van die jagtog tot by die verwerking van die vleis. Alles word prakties en in die veld aangebied, terwyl kampvuurstories en leierskapsontwikkeling om 'n gesellige kameeldoringvuur, deel van die opleiding uitmaak.
Daar is vir agt dae in die veld gekamp en alle voedsel is in die veldkombuis gaar gemaak en brode is in die sandoonde gebak. Elke student was ook aktief betrokke by die kosmaak en opruiming.
Die veilige en oordeelkundige hantering van 'n vuurwapen vorm 'n integrale deel van die opleiding. Elke student se skietvernuf moes eers op standaard wees voordat hulle in die jagveld toegelaat is.
Met suksesvolle voltooiïng van die kursus word 'n CHASA (Jagterskonfederasie van Suid-Afrika) -sertifikaat verwerf waarna die student kan registreer as toegewyde jagter.
SJB spreek hul opregte dank uit aan die vele instansies en privaat donateurs wat op 'n gereelde basis bydraes maak om die jeug beter toe te rus om beredeneerde en sinvolle besluite te kan neem tydens omgang met ons natuurlike hulpbronne.
Dankie aan Wilhelm Zietsman, Marnus Ferreira, Ferreira Meyer, Len Nel, Christo Engelbrecht, Fermi Meyer en Bennie Botha wat opgetree het as mentors asook Wikus Snyman vir sy gasvryheid en vir die gebruik van sy fasiliteite tydens die besoek aan sy plaas in die Noord-Kaap. Spesiale dank ook aan Johryn en "ouma" (tannie Maryna) vir die heerlike kos wat hulle voorberei het.
Vir inligting rakende junior opleiding kan die SJB kantoor by Diasstrand geskakel word (044 695 2319) of Fermi Meyer (072 444 8236).
Die verskillende skiettegnieke word beoefen.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'