MOSSELBAAI SPORT NUUS - Een van Tiger Kai se studente het weer naam gemaak, hierdie keer op 'n wêreldverhoog in Amerika.
Conroy Williams van Tiger Kai, het in Orlando Florida by die NMA/ISKA Wêreldgevegskunskampioenskap deelgeneem. Hierdie wêreldkampioenskap is die grootste van sy soort waartydens duisende deelnemers uit 35 lande meeding.
Conroy het ongeveer twee jaar gelede by die klub aangesluit. "Met my aansluiting by die klub, het my fight game net beter en beter geraak," vertel Conroy. "Elke klas, elke les, elke inspirasie, het my nie net as vegter verbeter nie, maar ook as mens."
Conroy het in 2018 Tiger Kai verteenwoordig by die Destiny-toernooi. Sy sukses daar, het hom die geleentheid gegun om Suid-Afrika in Amerika by die wêreldkampioenskap te verteenwoordig. Tydens die kampioenskap het Conroy 'n tweede plek in MMA Sport, intermediêr tot gevordered, in die kategorie 35 jaar en ouer, verwerf.
Conroy meen dat al sy sukses te danke is aan sensei Phillip en sensei Marulin Goodger, asook die res van die Tiger Kai-span. "Tiger Kai is great en ek kon nie vir 'n beter klub vra nie. Ek bedank hulle dat hulle my nie net beter gevegsvaardighede geleer het nie, maar ook beter menslike waardes."
Sy langtermyndoelwit is om sy afrigters-kursus by Tiger Kai te doen en sy eie dojo vir minderbevooregte kinders te open. Vir die korttermyn, wil hy terugkeer na die NMA/ISKA Wêreldgevegskunskampioenskap en 'n goue medalje terug huis toe bring.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'