MOSSELBAAI GHOLFKLUB - Die heerlike reën, koue weer, asook 'n geniepsige windjie tussen-deur het selfs die mees entoesiastiese gholfspeler die afgelope week laat handdoek ingooi.
Geen kompetisie het Woensdag, 29 September en Saterdag, 2 Oktober by die Mosselbaai-gholfbaan plaasgevind nie, maar gelukkig het die Springbokke Saterdag met skitterspel ons harte laat warm klop.
September het gekom en gegaan en weer eens kan gerapporteer word dat dit 'n lentemaand was wat almal se verwagtinge oortref het.
Bykans 3 700 rondes gholf is aangeteken en die gewildheid van die baan ken geen perke nie.
Die seisoentyd wat vinnig nader spoed, maak almal opgewonde en as alles vorentoe voorspoedig gaan verloop, wag daar 'n suksesvolle seisoen op die Mosselbaai-gholfklub.
Graeme Viljoen
Saam met al die voorspoed is daar ook die afgelope week verneem dat die klub se bekwame en gewilde hoofbestuurder, Graeme Viljoen, die klub na amper vyf jaar gaan verlaat om sy loopbaan by die hoogaangeskrewe Highland Gate gholflandgoed by Dullstroom te gaan voortsit.
Sy kennis, vaardighede en die talent om met mense te werk, het hom 'n gewaardeerde bestuurder gemaak. Sy tyd by die klub is 'n suksesverhaal en hy kan met trots terugkyk op wat alles vermag is in dié tydperk.
"Graeme, waar jy ons aan die einde van die maand gaan verlaat, kan ons maar net vir jou baie dankie sê vir al jou harde werk en opofferinge wat jy mildelik tot ons klub se voorspoed bygedra het. Mag jy baie gelukkig en voorspoedig wees in jou nuwe werksomstandighede."
Die lowergroen skoonvelde en pragtige setperke roep luid om op gespeel te word. Die sonnetjie sak later en 'n ronde gholf na werk sal maak dat jy die dag op 'n hoogtepunt kan afsluit.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'