GHOLFNUUS - Met die nuwe jaar fluks oppad en nog steeds vele besoekers wat die Mosselbaai-gholfbaan ten volle geniet, lyk dit of ons weer eens ‘n baie voorspoedige jaar gaan beleef.
Ons ou vriende, die Swaeltjies (Swallows), het die afgelope week in groot getalle weer hulle lidmaatskap by die klub kom hernu. Baie welkom aan elkeen van julle.
Woensdag
Die 200 spelers wat Woensdag, 11 Januarie die nuwe jaar met groot verwagtinge aangedurf het, moes hulle vernuf in die individuele stablefordkompetisie ten toon stel. Die mededinging was straf, maar op 43 punte het Attilio van Niekerk net-net die eerste prys voor Morné Hugo (42 punte) weggegaps. Om die derde plek is daar fel meegeding, maar Ricus Serfontein het op 41 punte eindelik die uittel-proses teen Kobus Potgieter en Bennie Venter oorleef. Nog heerlike braaipakke het op Sakkie Morrison (40 punte), asook Thys Pelser en Johan Buys, albei op 39 punte, gewag.
Saterdag
Saterdag, 14 Januarie het die vierbal alliansie die manne in groot getalle gelok om aan hierdie heerlike spankompetisie deel te neem.
Gavin Coleman het sy span van meet af knap gelei en spanmaats Sakkie Morrison, Jan Gelderman en Piet Potgieter, het ruim hulle bydrae gelewer om die span die botoon te laat voer met 90 punte.
Die uittel moes egter beslis wie die naaswenners sou wees en hier het die span van Danie van Langelaar, André Middel, Roelof Engelbrecht en Gert Pieterse die knoop deurgehaak. Vier veterane, Joe Luggen, Johan Buys, Martiens Mulder en Brian Power het die derde plek ingeneem.
Voornemende ligaspelers word daaraan herinner dat die ligalys vir 2023 op die kennisgewingbord aangebring is. Skryf jou naam so spoedig moontlik neer en word deel van hierdie heerlike ligastryd.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'