MOSSELBAAI GHOLFNUUS - Dit is met groot dankbaarheid, trots en tevredenheid dat Graeme Viljoen, algemene bestuurder van Mosselbaai-gholfklub, asook sy personeel kan terugkyk na die mees suksesvolste jaar en vakansieseisoen wat nog deur die klub beleef is. Meer as 6 000 rondes gholf is gedurende Desember 2018 gespeel en die aantal rondes vir die jaar het ook die 45 000 kerf bereik.
Met 'n raad wat doeltreffend funksioneer, 'n bestuurder met kennis en insig, asook personeel (restaurant en kroeg ingesluit) wat altyd bereid is om die ekstra myl saam te loop, kan dit nie anders as om 'n suksesverhaal te skryf nie. Groot dank ook aan die baanbestuurder Albertyn Sauerman en sy span wat soggens douvoordag die baan deeglik voorberei het vir die dag se aktiwiteite.
Aan Arrie van der Linde en sy span van Global Golf, puik gedaan. Baie dankie ook aan ons lede wat die duisende besoekers laat welkom voel het en vele rondtes gholf met hulle gedeel het.
Kompetisies
Vele kompetisies is gedurende Desember afgehandel en dit was verblydend om te sien hoeveel besoekers goeie gholf gespeel het en in die goeie pryse kon deel. Die heerlike vakansieweer het gesorg dat besoekers nie net ons strande volgepak het nie, maar tussendeur nog tyd afgeknyp het om vreugdevolle oomblikke op ons mooi baan te beleef.
Op Saterdag, 22 Desember het wapperende vlae 'n feestelike atmosfeer by die klub geskep. Een van ons lede, Dudley Wooldridge se King Price geborgde dag het 244 spelers aan die kompetisie laat deelneem. Michael Kriel en Neville Minnies was op 47 punte die wenners van die beterbal stableford-kompetisie. Twee oorsese besoekers, Fidy en Peter Zollinger was die naaswenners, ook op 47 punte. Baie dankie aan Dudley, Petrie Vermaak en hulle span wat die dag 'n onvergeetlike ervaring vir almal gemaak het.
Die naaswenners van King Price se geborgde dag: Peter en Fidy Zollinger saam met Petrie Vermaak (King Price).
'n Hoogtepunt elke jaar, vir die afgelope 17 jaar, is die groot stryd tussen die Rustenburgers en Mosselbaai. Op Vrydag, 28 Desember het die groot stryd plaasgevind en André van Wyk van Mosselbaai het sy troepe na 'n suksesvolle oorwinning oor ons goeie vriende van Rustenburg gelei. Dankie aan Joelie Erasmus, oud-Mosselbaaier, wat vir baie jare al die Rustenburg-vlag op Mosselbaai laat wapper.
Woensdag, 2 Januarie het 188 spelers mekaar die stryd in die individuele stableford-kompetisie aangesê. Oud Springbok-senter, Edrich Lubbe
(voorgee 9), het op 41 punte die A-afdeling gewen. Die B-afdeling het aan Anton Izaakse (snr) behoort na sy uitmuntende 41 punte. Gert Pieterse was verstom dat hy op 'n skamele 33 punte die C-afdeling ingeoes het. Goeie punte is ook deur die volgende spelers aangeteken: R Tolman (40 punte), J Zietsman en S van Vuuren (38 punte), D Smith (37 punte).
Saterdag, 5 Januarie se vierbal alliansie-kompetisie is deur die vier spesialiste op hierdie gebied, Attie van Niekerk, Jonathon Shelver, Stephen
Terblanche en Roelof Engelbrecht op 94 punte gewen. J van den Heever, D Sullivan, G van Zyl en J Joubert se 91 punte het aan hulle die tweede plek besorg. Vier jongmanne, S du Plessis, D Steyn, M du Preez en S Klinsick, het die derde plek op 90 punte ingeneem.
Met die nuwe jaar in volle swang en met groot strukturele veranderinge aan ons klubhuis wat reeds aan die gang is, sien ons met opgewondenheid uit na 'n wonderlike 2019.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'