GOLFNUUS - Op Maandag, 15 Mei, het dit omtrent gelyk soos die jaarlikse kerkbasaar op Pofadder by die Boggomsbaai gholfklub toe 60 Sages spelers in dié dorpie opgedaag het.
Heel toevallig het die plaaslike jukskeiklub aangrensend aan die gholfbaan ook 'n toernooi aangebied en vir buitestanders moes die groot klomp mense omtrent na 'n fees gelyk het.
Die Suid-Kaap Sages groep is vir al die regte redes in die nuus in die laaste tyd. Op die Nasionale Kampioenskappe in Parys, Vrystaat, in April, is Eleonor Speelman aangewys as die vroue-enkelkampioen en Bennie Pieterse het 2de gekom in die B-afdeling.
Op die pas afgelope Vyfhoekige Toernooi in Oos-Londen het die Suid-Kapenaars die toernooi gewen teen OP, Kouga, Outeniekwa en Grens met individue wat tegelykertyd skitterende prestasies behaal het.
Chris Barnard was eerste op dag 1 en Gert Brink derde. Op dag 2 was Kwartus Sieberhagen die wenner en Bennie Pieterse was tweede. Voorwaar 'n skitterende prestasie, Suid-Kaap.
Die formaat op Boggomsbaai het baie van die gholfspelers gefrustreer: 'n Mystery 4BBB. By elke vlaggie het jy die instruksies gekry wat met jou en jou maat se stablefordpunte gaan gebeur. Baie hang dus af van geluk en goeie spel van individue hou nie regtig water nie!
Uitslae
Die volgende spelers het goed vertoon in dié kompetisie:
- Martin en Eleonor Speelman (Mosselbaai) 56;
- Chris van den Berg en Tony Muller (M) 55;
- Ben Geldenhuys en Kokkie Rall (M) 53;
- Alwyn Vorster en Branco Celica (Stilbaai) 52;
- Jimmy Steele en Chris Maritz (Outeniekwa) 51;
- Cassie Swanepoel en Marius Loubser (Boggoms) 50;
- Ernest Roux en Ettienne Schmidt (B) 50;
- Chris Barnard en Gerald Glover (M) 48;
- Hardus van Zyl (B) en Wessel de Bruyn (S) 47.
Naaste aan die penne, geborg deur JC Slagtery van Riversdal, is gewen deur Arina van den Vyfer van Stilbaai op 9/18 en Bennie Pienaar van Boggoms op 6/15. Ernest Roux, Arina van den Vyfer, Chris Barnard, Hardus van Zyl, Bennie Geldenhuys (twee's) en Bennie Pienaar het almal spogtwee's behaal.
Groot dank gaan ook aan die vyf spelers van Outeniekwa, en ook die vier spelers van Tempe in Bloemfontein, wat die dag meegemaak het. Nou kan julle ook sê dat julle 'n Boggomsbaai-ervaring gehad het!
Die volgende Suid-Kaap Sages saamtrek is die jaarlikse IPS Kankerkompetisie op 19 Junie by die Mosselbaai gholfklub.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’