MOSSELBAAI GHOLFNUUS - Die beterbal houespelkompetisie wat op Woensdag, 22 September deur 148 spelers ondersteun is, het uitstekende tellings tot gevolg gehad.
Om die eerste plek te bepaal was dit nodig om die uittel-proses te gebruik om die wenners te bepaal.
Willem Nel en sy besoeker maat, Wilma de Wet, (63 houe) het die knoop deurgehaak en is as oorwinnaars gekroon. Erick Barkhuizen en Lambert Roux was die gewilde naaswenners met Talvin Schultz en Danie Nel in die derde plek. Met 64 houe op hulle kerfstok was Pieter Steenkamp en Jaco de Bruin in die vierde plek. Op 65 houe het Noël Hudson en George Ferns ook hulle hande uitgehou om die vyfde prys te ontvang.
Erfenisdag
Erfenisdag op Vrydag, 24 September het 144 spelers mekaar die stryd aangesê. Heerlike braaipakke was op die spel. Veteraan Kokkie Rall se 40 punte in die individuele stablefordkompetisie was genoeg om die kompetisie te wen en met die heerlike braaipak kon hy sommer nog baie gaste nooi vir die aand se braai.
Koot Naudé op 39 punte het hard in sy nek geblaas en het as vegtende naaswenner uit die stryd getree. Die oorblywende plekke is as volg gevul: Willem van Wyk, Armin Kade en Danie van Langelaar, almal op 38 punte. Johan Buys, Bertus Mare en George Morrison, almal op 37 punte, kon ook nog breed glimlag.
Saterdag
Die vierbal alliansie wat Saterdag, 25 September plaasgevind het, het goeie spanwerk vereis, want drie van die vier spelers se punte moes elke keer tel. Oosie Oosthuizen se kapteinskap het die deurslag gegee en sy formidabele span bestaande uit Anton Steenkamp, Rob Muller en Ferdi Jonck, het hulle skitterend van hulle taak gekwyt en op ‘n onaanvegbare telling van 126 punte is hulle die wenkampie binne-gelei.
Die haan onder die henne, Danie Venter, het sy groepie ook mooi onder beheer gehou en kon Tracy Venter, Gail Botha en Gloria Greyvenstein op 120 punte waardige naaswenners wees. Drie oud-presidente van die klub, Paul Brits, Noël Hudson en Wessel Brand het met die hulp van André Brits ook hulle vaardighede ten toon gestel en op 120 punte is hulle derde geplaas.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'