Video
MOSSELBAAI NUUS EN VIDEO - Twee-en-twintig studente van Kruiskerk in Stellenbosch is Atlete vir Christus en sedert 1975 word die trotse tradisie voortgesit om gedurende Junie/Julie deur Suid-Afrika te toer.
Die 2018 toer het op 2 Julie in Langebaan begin en op 18 Julie, na 1 800 kilometer, in Mosselbaai by Santosstrand geëindig. Die groep het vol energie in die koue water ingehardloop na 'n pragtige dankgebed en lofsang.
Die doel van die toere is tweeledig – eerstens word Jesus verheerlik en 'n boodskap van hoop versprei. Die Evangelie word deur middel van hardloop, sang en getuienisse gelewer. Die tweede doel is vir fondsinsameling ten bate van Bybel-Media vir die publikasie en verspreiding van Bybelstudiegidse in gevangenisse wat die hart van hierdie groep jongmense se bediening is.
Die leier van hierdie groep was vanjaar 'n boorling van Mosselbaai. Gabrie Viljoen is die oudste seun van ds Dave Viljoen en sy vrou, Doris. Die egpaar was vir baie jare die herderspaar van Mosselbaai NG Moedergemeente. Daarom het Gabrie besluit dat daar geen ander eindpunt vir hierdie jaar se toer as Mosselbaai kan wees nie.
Kyk 'n video hieronder:
Indien iemand dalk 'n bydrae wil maak, kan Gabrie gekontak word by 071 499 1155 of volg hulle op die facebookblad - Atlete vir Christus.
Met harte wat warm klop ten spyte van die koue water het die groep lof gebring. Op hulle hempies staan AHOE en dit staan vir Aan Hom ons eer.
Die 2018-roete wat die groep atlete afgelê het.
Die amptelike groepfoto van die 2018 toer van Atlete vir Christus op Santosstrand.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'