HARTENBOS NUUS - Desember is hier en daarmee saam kom die Eden Straatmyl-reeks.
Die reeks bestaan uit twee bene, die Klein Karoo Straatmyl op Oudtshoorn (16 Des) en die ATKV Straatmyl op Hartenbos (18 Des) en word georganiseer deur die Klein Karoo Atletiekfonds (KKAF).
Die 2024-reeks is op 20 November op Oudtshoorn bekendgestel. Verskeie borge is by die geleenthede betrokke, en is op die aand bedank.
Beide die burgermeesters van Oudtshoorn, Johan Allers, en Mosselbaai, Dirk Kotzè, het hulle ondersteuning weer bevestig.
Dave van der Walt (KKAF) het ook hulde gebring aan alle sekondêre borge, die media en die reëlingskomitee bestaande uit vrywilligers.
Hans van der Veen, voorsitter van die KKAF, het 'n kort geskiedkundige oorsig van die reeks aangebied.
Toevallig was die eerste atleet wat 'n droommyl ('n myl in onder vier minute) in Suid-Afrika gehardloop het, De Villiers Lamprecht, ook van Oudtshoorn.
Hy was hoofseun en het sy skoolloopbaan aan die destydse Oudtshoorn Boys High voltooi.
Dit is dan ook gepas dat die reeks die afgelope klompie jare voor dié gebou, tans die CP Nel Museum, geëindig het. Van der Veen het ook hulde gebring aan al die atlete wat in die verlede in dié reeks droommyle kon aanteken.
Tinus Erasmus (SWD-atleet) het aangedui hoe belangrik die reeks vir plaaslike atlete is - groot name soos Elroy Gelant, Carina Viljoen, Johan Cronje, Amos Nyongo, Ryan Mphahle, Kesa Molotsane, Luan Ludick, Charné Swart, Nkosinathi Sibiya en Simonay Weitsz het al hul stempels in dié reeks afgedruk.
Die reeks is amptelik geopen deur Desmond Speelman (voorsitter van die Eden Sportraad).
Vir meer inligting en inskrywings, besoek www.edenmiles.co.za.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’