MOSSELBAAI NUUS - Altesaam 115 rekords is verbeter tydens Curro Mosselbaai se interhuis-atletiekbyeenkoms wat verlede Donderdag by die Van Riebeeck-stadion aangebied is.
Daar was ook nuwe items waar nuwe rekords vir die eerste maal aangeteken is.
Die byeenkoms het in digte mis plaasgevind en soms was die wenstreep skaars sigbaar!
Van die kleiner skole in Mosselbaai is ook uitgenooi om aan die byeenkoms deel te neem en leerders van Global Academy en Love Walk Christian Academy het in ‘n goeie gees aan verskeie items deelgeneem.
Die laerskool victrix ludorum is Kayleigh Stander en die victor ludorum, Musa Ngonoyono.
Zané Kruger is die hoërskool victrix ludorum en Anlo Ferreira die victor ludorum.
Daar is deurlopend met groot entoesiasme aan die onderskeie items deelgeneem.
Hanno Janse van Vuuren het vier rekords verbeter naamlik - diskus, driesprong, spiesgooi en hoogspring.
Ouers en onderwysers het die atlete luidkeels aangespoor en ondersteun wat tot puik kompetisie gelei het.
Zané Kruger vlieg oor die hekkies en is ook die senior victrix ludorum van die byeenkoms.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'