NASIONALE NUUS - Dit is nie net Springs wat ’n huis van gruwels het nie.
Op Middelburg het ’n ma van drie kinders skuldig gepleit op klagtes van verkragting, kinderverwaarlosing en die versuim om seksuele misdrywe aan te meld.
‘n Maatskaplike werker se verslag, wat aan die hof voorgehou is, het afskuwelike verwaarlosing en mishandeling aan die lig gebring:
•Haar negemaande oue baba seuntjie is met bosluise en ander insekte in sy doek gekry.
•Die agtjarige dogtertjie is na bewering so gereeld deur haar pa verkrag dat sy by polisiebeamptes gepleit het om haar nooit weer terug te stuur huistoe nie. Die pa het na die verwaarlosing aan die lig gekom het, by www.mobserver.co.za se kantore opgedaag en aggressief ontken dat sy kinders verwaarloos is. Kort daarna het hy saam met sy vrou verdwyn.
Lees ook: Huis van gruwels – Ouers wat eet terwyl honger kind kyk bly in aanhouding
•Die dogtertjie is nooit skool toe gestuur nie en was op die vlak van ‘n driejarige toe die welsyn haar verwyder het.
•Sy is met bebloede boude, sonder onderklere, deur die welsyn gevind.
•Haar ses dae oue boetie is bewusteloos met ‘n leë maag, siek van die geelsug, op die mat tussen honde-ontlasting gekry.
•Die pasgebore baba is vir meer as ‘n week lank in Life Midmed Hospitaal behandel. Dierehare moes eers uit die kind se mond en neusholtes verwyder word, voordat paramedici behandeling kon toepas.
Die vrou sal later gevonnis word en staar lewenslange gevangenisstraf in die gesig.Haar man het Donderdag vlugtig in die hof verskyn waartydens sy verhoordatum vasgestel sou word. Hulle name word weerhou om hulle kinders te beskerm.
Die paartjie is beide in aanhouding, nadat hulle uit Middelburg na familie in eMalahleni gevlug het. Die hof het hulle as ‘n vlugrisiko bestempel en borg is geweier.
Al drie kinders is in pleegsorg geplaas en toon goeie vordering.