Gallery
MOSSELBAAI NUUS - Die vrolike gelag van kinders het weerklink op die gronde van die Dias Museumkompleks toe talle kinders uit die Aslapark-omgewing, wat baat vind by 'n welwillendheidsprojek, heerlik baljaar het as deel van hulle jaareindvieringe.
Die Kerspartytjie is befonds en aangebied deur die Albertha Project wat maandeliks maaltye voorsien aan sowat 400 hulpbehoewende voorskoolse en laerskoolkinders in Aslapark, Civic Park, Sewende Laan en D'Almeida. Die Albertha Project is gestig deur finansiële adviseur en makelaar, Sieg Stander en prokureur Imke Dekker.
Ander lede sluit in Nicky Stears, Juan Pretorius en Rozelle Stander. Vanweë die kinders se getalle, word 'n tweede Kerspartytjie weer op 24 November by die museumgronde gehou. Tydens Saterdag se program, het Mosselbaai brand- en rampbestuursdienste die kinders op 'n interaktiewe manier meer vertel oor hoe hulle moet optree in geval van 'n brand.
Die prosedure stop, drop and roll is gedemonstreer. Hulle is ook geleer om die noodnommer te memoriseer en vertel wat hulle moet sê wanneer hulle met die operateur sou praat.
Daar was groot opgewondenheid toe lede van die brandweer die jonges 'n welverdiende geleentheid gegee het om af te koel deur hulle met die brandslang nat te spuit.
Toeriste wat die Dias Musuemkompleks besoek het, het sommer 'n fotogeleentheid saam met die kinders geniet.
Die kinders het behoorlik gejil soos julle onder die straal water deurgeloop het. Mosselbaai munisipale verkeer en Daantjie Kat het ook hulle opwagting gemaak om die jonges touwys te maak oor padveiligheid.
Na al die opwinding, het hulle alte lekker gesmul aan kerrie en rys, geborg deur Café Gannet-restaurant.
Die kinders het omtrent baljaar toe die brandweermanne hulle natspuit.
Groot afwagting voor die brandweer se waterstraal die kinders tref vir 'n bietjie afkoeltyd in die middaghitte.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'