MOSSELBAAI NUUS - Mosselbaai munisipaliteit het kennis geneem van die stygende watervlak in die Hartenbosrivier en daar is reeds 'n aanvang geneem met die nodige prosesse om magtiging te kry vir die oopmaak van die riviermonding, indien nodig.
Hoewel daar wel bevestiging van twee dooie visse op die walle van die rivier ontvang is, bevestig die munisipaliteit se omgewingsbeampte, mnr Warren Manuel, dat daar vandeesweek ook heelwat lewendige vis in die rivier opgemerk is.
Die watervlakke van die rivier word deurgaans gemonitor, soos ook die weervoorspellings en reënvalvooruitskattings, sodat in geval van dringendheid onmiddellik opgetree kan word.
Die munisipale bestuurder, adv Thys Giliomee, het vandeesweek aan die Mossel Bay Advertiser bevestig dat die monding selfs in stortreën oopgemaak sal kan word in geval van nood.
Die munisipaliteit moniteer ook die waterkwaliteit deurgaans. Watermonsters is ook op Dinsdag, 15 Augustus geneem. Die uitslae van hierdie toetse was nie teen druktyd beskikbaar nie.
Die Hartenbosrivier Forum meen egter dat dit genoodsaak word dat die riviermonding behoorlik - dus diep - oopgemaak moet word. Deur telkens net 'n vlak sloot te maak om die riviermonding oop te maak, meen die Forum, dien nie as langtermynoplossing nie.
Die voorsitter van die Hartenbosrivier Forum, Kobus Neethlingh, het onlangs daarop gewys dat die rivier in gemiddeld twee tot drie maande weer volloop. Die rivier was op 3 Junie oopgemaak en die monding was skaars 'n week later weer toe.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'