MOSSELBAAI NUUS - Die talentvolle jong skaakspeler, Raynier Claassen (15), gaan weer oorsee toer, hierdie keer in Algerië.
Raynier het onlangs aan die Suid-Afrikaanse Junior Geslote Skaakkampioenskappe deelgeneem en het tweede plek behaal.
Die kompetisie het vanaf 31 Maart tot 5 April by Hoërskool Hottentots-Holland in Somerset-Wes plaasgevind.
Hy kwalifiseer nou om oorsee aan die wêreldbyeenkoms vir jeugspelers deel te neem. Dit vind van 6 tot 14 Desember in Algerië plaas.
Hy is die enigste skaakspeler van die Wes-Kaap wat daarvoor gekwalifiseer het.
In verlede jaar se kompetisie in Brasilië het Raynier die 57ste plek uit 118 spelers van 62 lande behaal.
Raynier, ’n leerder van Hoërskool Punt in Mosselbaai, is sedert sy gr. 3-jaar ’n skaakspeler. Sy vaardighede het sedertdien sodanig ontwikkel dat hy aan kompetisies regoor die land deelgeneem het.
Indien iemand sy reis wil help borg, skakel vir Aldo Pekeur (president@wc-chess-assoc.co.za).
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’