Update
MOSSELBAAI NUUS - “Ons kinders het baie vrae oor hulle pa se dood. Hulle verstaan nie, en vandag moet ek my man se lyk gaan uitken.”
Só sê die weduwee van die Barbarians-rugbyspeler, Leroy Koopman (34), wat Sondagoggend op Mosselbaai vermoor is.
Janine Koopman sê hulle twee dogters, Jaylin (7) en Leora (2), mis reeds hulle pa. Leroy het ook ’n 13-jarige seun, Zayan.
“Ons sou volgende week ons vierde huweliksherdenking vier, en nou is hy net weg,” het ’n emosionele Janine aan Mossel Bay Advertiser gesê.
Leroy se liggaam is ongeveer 02:00 op Sondagoggend voor sy grootmaak-ouma en -oupa se huis in Adriaanstraat, KwaNonqaba, gevind. Hy is met ’n skerp voorwerp gesteek.
Intussen sal ’n 27-jarige verdagte na verwagting vandag, 17 Junie, in die Mosselbaai-landdroshof op ’n aanklag van moord verskyn.
Angelo Erasmus (spanbestuurder) oorhandig 'n ruiker aan Janine Koopman. Foto: Dexter Brinkhuis
Janine sê hulle weet nog steeds nie wat presies tot die voorval gelei het nie. “Ek was die aand by my ouers se huis, want my suster het verjaar. Leroy het gesê hy gaan na sy grootmaak-ouma en -oupa se huis. Daar het ’n bakleiery ontstaan en hy is voor hulle huis vermoor.”
Janine sê Leroy was lief daarvoor om grappe te maak. “Hy was ’n liefdevolle mens en só sal ek hom altyd onthou.”
Hy het vir 10 jaar vir die Barbarians op die rugbyveld uitgedraf en het by die Mosselbaai-munisipaliteit se afdeling vir strate en stormwater binne die direktoraat vir infrastruktuurdienste gewerk.
Hy het op Mosselbaai skoolgegaan en was ’n bekende gesig op die dorp.
Burgemeester Dirk Kotzé het op sy Facebook-blad sy medelye met die Koopman-familie gedeel en gesê hy veroordeel dié sinnelose daad.
Die Barbarians sal vanaand by die D’Almeida-stadion bymekaarkom waar ’n berader hulle ook sal toespreek.
Die Koopman-familie sal ook na verwagting teenwoordig wees.
Die begrafnisreëlings is nog nie bekendgemaak nie.
Vorige artikel:
Mosselbaai Barbarians-speler vermoor
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’