MOSSELBAAI NUUS - Die 14-jarige Quade Fortuin sal vroeg in Desember sy talente as rugbyspeler in Frankryk uitstal.
Dié begaafde losskakel en/of buitesenter en graad 8-leerder aan die Hoërskool Punt, is deur Travel and Sport genooi om vir tien dae van 5 tot 14 Desember aan 'n toernooi in Frankryk deel te neem.
Travel and Sport is 'n groot naam in die georganiseerde sporttoerprogram vir skole en het oor die afgelope 25 jaar reeds aan sowat 35 000 leerders die geleentheid gebied om in meer as 1200 verskillende bestemmings regoor die wêreld verskillende sporte te beoefen.
Fortuin is deur dié organisasie raakgesien toe hy in Maart aan die Kwagga rugbytoernooi in George deelgeneem het.
Hy beoefen die sport reeds van hy as 6-jarige kannetjie daarby betrokke geraak het.
In sy finale jaar aan Milkwood Primêr verlede jaar, was hy ook kaptein van die A-span en het hy verskeie Speler van die Wedstryd-toekennings ontvang.
Fortuin het ook almal bedank, wat sedert Maart kliphard gewerk het om dié geleentheid vir hom moontlik te maak.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’