MOSSELBAAI NUUS - Openbare biblioteke speel dikwels 'n stil maar belangrike rol in die ontwikkeling van gemeenskappe.
In die Mosselbaaise munisipale gebied bied 13 openbare biblioteke daagliks toegang tot boeke, studieruimtes en gratis internet.
Die D'Almeida-biblioteek is een van hierdie ruimtes waar inwoners die ondersteuning kry om hul potensiaal te verwesenlik.
Vir Mosselbaaier Leslin Marcus was dit die plek waar sy professionele reis begin het.
Wat aanvanklik bloot 'n rustige plek was om te studeer, het uiteindelik 'n belangrike deel van sy suksesverhaal geword. Vandag kan Marcus, 'n prokureur van die hooggeregshof van Suid-Afrika, terugkyk op daardie jare.
"Die biblioteek het nie net 'n plek van studie gebied nie, maar ook 'n omgewing van groei, dissipline en geleentheid tydens van die mees veeleisende tye in my lewe," vertel hy.
Volgens biblioteekassistent Leilani van der Berg was dit besonder inspirerend om Marcus se ontwikkeling oor die jare te sien.
"Dit is 'n voorreg om sulke groei te sien. Leslin se prestasie wys wat moontlik is wanneer harde werk en gemeenskapsondersteuning saamwerk," sê sy.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’