Gallery
MOSSELBAAI NUUS - Dit was inderdaad en opnuut 'n opwindende paar dae in die lewe van Ampie Reinecke (80), wat sy ouderdom en gesondheid ten spyt, met alle ywer die stryd teen kanker voer, nie net persoonlik as 'n kankerlyer nie, maar juis vir die talle kinders wat deur hierdie siekte geraak word.
Ampie het Saterdag, 29 Junie, hierdie keer amptelik as lid van Mossel Bay Skydive, 'n fondinsamelingsgeleentheid aangepak as deel van 'n projek wat hy Skydive Kiddies Cancer Drive noem.
Hy het in November verlede jaar sy hartewens vervul deur die vir eerste keer in 51 jaar weer valskerm te spring. Sy oogmerk tóé reeds was om kankerbewusmaking te doen. Vanjaar het hy deur hierdie projek, amptelik ondersteun deur Kansa, behoorlik die daad by die woord gevoeg.
Die projek is daargestel om alle kinders wat op een of ander manier deur kanker geraak word, te ondersteun.
"Dit was vir ons 'n groot eer dat oom Ampie op hierdie manier 'n bydrae wou lewer vir TLC, Tough Living With Cancer, waar ons werk met jong kankerpasiënte en ook die kinders van gediagnoseerdes," vertel Anina Meiring van Kansa.
"Die atmosfeer op die dag was eenvoudig electrifying. Die kinders het onmiddellik aanklank gevind by oom Ampie. Sy ogies het sommerso geblink van die lekkerte."
Volgens Anina, het een van die kinderkankeroorwinnaars ook die geleentheid gekry op die dag om vir die eerste keer in sy lewe in 'n vliegtuig te vlieg. "Dit was vir hom 'n ongelooflike ervaring."
Filmspan
'n Filmspan van die kykNET-program, Kwêla was ook by die Mosselbaai-vliegveld om met Ampie en van die ander deelnemers te gesels. "Die span was uiters, man meer as professioneel," het Ampie baie in sy skik vertel.
Hy het ook net met die grootste lof gepraat van Mossel Bay Skydive se span en hoe hulle die inisiatief ondersteun het. Plaaslike verteenwoordigers van Kansa het ook die geleentheid bygewoon om hulle ondersteuning te toon.
"Ek is baie dankbaar teenoor al my borge wat hierdie sprong Saterdag moontlik gemaak het." Danksy die borge, kon die lede van die Kwêla-filmspan ook die sprong eerstehands meemaak deur in saam in die vliegtuig te wees.
"Kwêla het laat weet dat die amptelike datum vir die uitsending van die Skydive Kiddies Cancer Drive-program, op Sondag 28 Julie om 18:00 sal wees," het Ampie op sy facebookblad bekendgemaak.
"Ons weet nog nie hoeveel ons ingesamel het nie, aangesien mense steeds na al die publisiteit van die naweek se gebeure, kontak maak om nog bydraes te kan maak."
Ampie en sy vrou, Dot was op Maandag 1 Julie 59 jaar getroud. Hy het op haar versoek in die jare sestig ophou valskermspring. En gaan hy weer spring? "Beslis ja," het Ampie vandeesweek aan die Mossel Bay Advertiser gesê.
Enige persoon wat 'n bydrae tot die Skydive Kiddies Cancer Drive wil lewer, kan 'n inbetaling doen by: Kankervereniging van Suid-Afrika NPO, Absabank Rek # 9062416313, bankkode 632005, verwysing: KIDDIE'S CANCER DRIVE
Lees 'n vorige artikel hier: Filmspan ook by groot sprong vir kanker
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'