MOSSELBAAI NUUS - 'n Jong vrou van Aslapark is omstreeks 18:30 in Adriaansweg dood aangetref nadat sy deur haar geliefde herhaaldelik met 'n mes gesteek is.
Zimasa Mene (22) en die beskuldigde, met wie sy tot kort voor haar dood in 'n verhouding was, het volgens inligting in die straat gestap toe 'n rusie ontstaan, vermoedelik omdat sy die verhouding nie wou hervat nie.
Die beskuldigde het volgens inligting verskaf deur die KwaNonqaba-polisie daarna die vrou ses keer met 'n mes gesteek, onder meer vier keer in die nek en twee keer in 'n arm.
Inwoners het die polisie ontbied nadat hulle op die vrou se liggaam in die straat by die Garden Route Primêre Skool se sportgronde afgekom het.
Die beskuldigde het hom na die voorval aan die polisie oorgegee. Hy bly in aanhouding tot en met die hofverskyning.
Enige persoon met inligting oor die voorval word versoek om die ondersoekbeampte, ao Errol Barnard (044 606 5600) te kontak.
Alle inligting sal streng vertroulik hanteer word.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'