Update
TUINROETE NUUS - Tuinroete-sibbe Abreyam (Da V.G.) en Chuemia Prins (M.I.A.) het weereens musiekliefhebbers se aandag getrek.
Hul jongste gesamentlike enkelsnit, “Onthou my naam”, is op 7 Oktober vrygestel. Die liedjie het binne enkele dae tienduisende kyke geniet.
Hoewel dié soort sukses nie nuut vir die broer-en-suster-duo is nie, bly die reaksie op hul musiek vir hulle ’n aangename verrassing.
Verlede jaar het die twee die treffer “Ek like jou” vrygestel, wat deur Jön William Evertse (Boeta Luv) van Groot-Brakrivier vervaardig is. Die liedjie het groot aanklank by luisteraars gevind en het teen 13 Oktober 2,7 miljoen kyke op YouTube en 4,7 miljoen luisterbeurte op YouTube Music behaal.
Hul jongste enkelsnit het eweneens vinnig gewild geraak. Binne ’n week ná die vrystelling het “Onthou my naam” reeds 77 000 kyke op YouTube en meer as 77 000 luisterbeurte op YouTube Music behaal. Die liedjie het ook op TikTok gewild geraak, waar meer as 4 000 gebruikers dit in hul eie video’s gebruik het.
Abreyam en Chuemia Prins saam op die verhoog. Foto: Selly Photography
Abreyam sê hy is oorweldig deur die ondersteuning vir die nuwe liedjie, veral omdat hy en Chuemia eers twee weke voor die vrystelling daarvan op sosiale media begin bemark het. Lucky1beats het die maat vervaardig, terwyl Yxnglikeme vir die vermenging en finale klankafwerking verantwoordelik was.
Die liedjie se betekenis lê egter veel dieper as die indrukwekkende syfers. Volgens Abreyam is dit ’n baie persoonlike werkstuk wat uit verlies en nadenke oor die lewe gebore is.
“Die boodskap agter die liedjie is baie diep en persoonlik,” sê hy. “In die afgelope paar jaar het M.I.A. en ek albei mense na aan ons verloor. Baie van hulle was jonk, en wanneer soveel jongmense sterf, laat dit jou dink oor hoe kort die lewe is. Daarom het ons besluit om daaroor te skryf.”
Die liedjie weerspieël ook die sibbe se wens om vir meer as net hul musiek en gewildheid onthou te word.
Chuemia Prins (M.I.A.) en haar broer, Abreyam (Da V.G.). Foto: Verskaf
“Ons bid albei vir lang, gesonde lewens, maar ons hoop dat indien iets met een of albei van ons sou gebeur en ons op ’n jong ouderdom ons lewens verloor, mense ons nie net vir ons musiek, die groot syfers en ons gewildheid sal onthou nie, maar ook vir die liefdevolle, goedhartige mense wat ons was,” sê Abreyam.
Selfs die kunswerk op die enkelsnit se omslag dra dié boodskap uit. Die titel verskyn in die middel, omring deur die name van mense wat vir die twee kunstenaars ’n besondere betekenis het.
“Die name op die kunswerk is dié van mense wat ek en M.I.A. nooit wil vergeet nie. Sommige is vriende, ander is familie en nog ander is medekunstenaars. Daar is ook mense wat ons mentor was en steeds is. Sommige van hulle is reeds oorlede, maar die meeste leef nog.”
Met “Onthou my naam” deel Abreyam en Chuemia dus nie net nuwe musiek met hul aanhangers nie, maar ook ’n persoonlike boodskap oor verlies, liefde en die nalatenskap wat ’n mens agterlaat.
Die enkelsnit is beskikbaar op YouTube, YouTube Music en Spotify.
Vorige artikels
- Van Facebook-video’s tot ’n virale treffer: Chuemia Prins se musiekreis
- Van ’n liefde vir musiek tot ’n virale treffer
- Moenie opgee nie: Da V.G se pad na miljoene kyke
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’