Update
MOSSELBAAI NUUS - Die Staat en die verdediging het die afgelope week hul getuienis in die saak teen ’n pastoor van Mosselbaai wat van verkragting aangekla word, gesluit.
Die beskuldigde, Fostino Jacobs (in sy 60’s), ’n pastoor van die Lighthouse Assembly of God, het Dinsdag en Woensdag, 10 en 11 Maart, in die Mosselbaai-streekhof verskyn.
Jacobs is in Oktober 2022 in hegtenis geneem. Hy word daarvan beskuldig dat hy die klaagster, ’n 22-jarige vrou, wat tóé nog op hoërskool was, na bewering verskeie kere verkrag het - insluitende by die kerk.
Jacobs is vroëer op borgtog vrygelaat en pleit onskuldig op die aanklagte teen hom.
Die afgelope week is verskeie getuies kruisondervra. Die ondersoekbeampte, AO Alistair Rezant, was die laaste een wat deur die Staat geroep is.
Die verdediging het dit aan Rezant gestel dat die klaagster se verklaring wat hy afgeneem het, verskil het van dit wat in die hof voorgehou is. Hy het egter volgehou dat niks in sy oorspronklike verklaring verander is nie.
Die saak is na 10 April uitgestel.
Die verdediging het aangedui dat hulle van voorneme is om ’n aansoek in die hof te bring om die beskuldigde kwyt te skeld op die aanklagte teen hom.
Vorige artikels:
- Pastoorsvrou se boodskappe onder loep in hof
- Mosselbaai-pastoor weer in hof
- Mosselbaai-pastoor in hof oor klagte van verkragting
- Dag twee van pastoor se verkragtingsverhoor
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’