MOSSELBAAI NUUS - Laerskool Herbertsdale het op 8 Maart breëbors gespog met die vrug (oftewel groente) van hulle arbeid in hul suksesvolle groentetuin.
Die uitvoerende burgemeester van Mosselbaai, Dirk Kotzé, en 'n afvaardiging van Belgiese skenkers het dié tuin besoek.
Die besoekers uit België, Harry en Marianne Graff en Rita en Gerd Neuens, het die Direct Relief of Poverty and Sickness Foundation (DROPS) verteenwoordig.
DROPS het die skool in 2022 met befondsing vir toerusting en plante gehelp om die tuin van die grond te kry. In Oktober 2023, het 'n verdere skenking van plante, sade en vrugtebome gevolg.
Laasgenoemde skenking is moontlik gemaak danksy 'n fondsinsameling by 'n skool in Schönberg, België, waar Rita 'n onderwyser is. DROPS het gesamentlik in 2023 en 2024, R50 000 tot die groentetuin-projek bygedra.
Transnet Mosselbaai het ook deur middel van 'n Mandeladag-projek verlede jaar by die projek ingekoop en was ook tydens Vrydag se besoek teenwoordig.
DROPS het by Laerskool Herbertsdale, asook ander gemeenskapsprojekte betrokke geraak deur bemiddeling van die Mosselbaai-munisipaliteit se afdeling vir landelike ontwikkeling.
Die afdeling werk om onder meer fondswerwing vir projekte in landelike gebiede te soek. Die groentetuin-projek is die vyfde projek sedert 2018 wat DROPS en die munisipaliteit in samewerking implementeer.
"Die projek is vir ons goud werd, aangesien die kinders deur self 'n geleentheid te kry om in die tuin te werk, praktiese landbou-ondervinding opdoen.
"Hulle leer ook die waarde van 'n gesonde leefstyl deur gesonde eetgewoontes. Ons is baie trots daarop dat ons eerste oes minstens 150kg se vars produkte opgelewer het," sê Daniel Titinger, die skoolhoof.
Hy het uitgebrei dat die groentetuin in al die behoeftes van die skool se koshuis vir vars groente voldoen en dat die opbrengs die skool verder in staat stel om hulle voedingskema te bedryf waarvolgs 100 kinders daagliks van 'n maaltyd voorsien moet word.
Addisionele infrastruktuur
Tintinger het tydens sy aanbieding genoem dat dit die skool se voornemens is om die tuin uit te brei met groter verskeidenheid en dat addisionele infrastruktuur verwelkom sal word, hangende verdere befondsing.
Die hoofseun van die skool, Jayden Witbooi, wat ook al sy deel in die tuin gedoen het, het met sy spreekbeurt die wenresep vir 'n goeie oes gedeel.
Hoofseun Jayden Witbooi.
"Ons tuin lyk alte pragtig. Al wat 'n tuin kort is water, sonlig en liefde."
Hy het 'n spesiale woord van dank aan die volwasse tuinwerkers, Estell Dire en Livingstone Louw, gerig.
Harry Graff het bevestig dat ses van DROPS se projekte in Suid-Afrika, op Mosselbaai gesetel is. Hy het dit toegeskryf aan die goeie verhouding en betroubare vennootskap met die munisipaliteit.
"Dit is vir ons baie besonders om die skool te kon besoek en te kon sien hoe die projek floreer. Ons wil sien hoe die kinders leer dat dit maklik is, met 'n bietjie toewyding, om jou eie kos te verbou. Ons hoop ook dat vriendskapsbande sal groei tussen die kinders van Herbertsdale en Schönberg," het Graff gesê.
Die burgemeester het die Belge asook Transnet bedank vir hulle steun aan gemeenskapsprojekte in samewerking met die munisipaliteit.
"Hoewel die munisipaliteit in dié geval slegs 'n koördinerende rol gespeel het, beywer ons ons vir goeie samewerking om strategiese vennotskappe met die privaat sektor, asook alle vlakke van regering te vestig ten einde die talle behoeftes in ons gemeenskap aan te spreek."
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’