Video
MOSSELBAAI NUUS EN VIDEO - Die gemeenskap is opnuut bekommerd oor die veiligheid van swemmers op Diasstrand in die afwesigheid van lewensredders.
Dit volg ná ses kinders die afgelope naweek van verdrinking gered is.
Die voorvalle het drie ure uit mekaar plaasgevind en hoewel daar geen noodlottighede was nie, was twee van die kinders nie by hulle bewussyn toe hulle gered is nie. Hulle is later genadiglik bygebring.
Eerste voorval
Volgens André Swanepoel, 'n werknemer by die Diaz Waterpark, was hy die eerste noodpersoneellid wat nadat daar alarm gemaak is, hom na die toneel op die strand onderkant die waterpark gehaas het. Die eerste voorval was net na 12:00 op Saterdag, 15 Februarie.
Swanepoel vertel dat hulle hom by die waterpark kom roep het om te sê dat daar 'n swemmer in die see in die moeilikheid is. "Ek het my toerusting gevat en op die strand gesien dat omstanders die seun reeds uit die water gehaal het. Hy het egter geen teken van lewe getoon nie. Die omstanders was besig met kardiopulmonêre resussitasie. Ek het myself voorgestel en die toneel oorgeneem, asook met die ambulansdienste kontak gemaak," vertel Swanepoel.
Met die eerste sarsie kardiopulmonêre resussitasie, het die seun se polsslag weer begin, maar hy het nog nie asemgehaal nie. Nooddienspersoneel van Metro EMS, ER24 en By Grace het op die toneel opgedaag. "Die seun is gestabiliseer en ER24 het die kind na die provinsiale hospitaal op Mosselbaai geneem waar hy 'n verdere terugslag gehad het. Volgens inligting is hy weer bygebring en is hy later per helikopter na George geneem.
Kyk 'n video hieronder.
Tweede voorval
"Ongeveer 15:15 het personeel by die Diaz Waterpark vir my kom sê daar is 'n paar kinders in die moeilikheid in die seewater." Swanepoel vertel dat toe hy weer eens met sy toerusting op die strand aankom, het vakansiegangers en 'n branderplankryer sowat vyf kinders wat in die moeilikheid was, uit die water gehaal.
"Een van die kinders was bewusteloos. Ek het dadelik die nooddienste gekontak en met kardiopulmonêre resussitasie begin. Ek het 'n pols gekry, maar daar was nie asemhaling nie."
Volgens Swanepoel, is die seun deur paramedici gestabiliseer en na George geneem vir behandeling.
Chiné van Aarde (36) van Swellendam wat by die reddingspoging betrokke was, vertel dat sy en haar suster, Anna-Marie Kumm, dié se verloofde, Neville du Preez en haar ander suster se twee kinders, Francois en Mariaan van Heerden op Diasstrand was ten tye van die voorval.
"Ons het geswem toe ons kinders hoor skreeu. Ons het gesien daar was vyf of ses kinders in die moeilikheid en dat die stroom hulle ingevat het. Ons het dadelik nader geswem om te help," vertel Van Aarde. "Toe ek by een van die seuns kom kon ek sien dat hy basies bo-op die ander kind sit. Ek het die seun wat onder die water was se lewelose liggaam gegryp en Anna-Marie het die een wat bo-op hom was gevat."
Volgens Van Aarde, het een van die ander kinders van agter af om Kumm se nek begin hang. "Ek het gesien my suster sukkel om kop bo water te hou en het, terwyl ek nog die eerste drenkeling in my hande het, die seun van my suster afgeruk. Neville het hom toe uitgeneem.
"Francois en Mariaan het met die ander twee uitgeswem waarna Swanepoel en lewensredders van die Diaz Waterpark oorgeneem het. Hulle het die een jong drenkeling probeer red. Die ander seuns het weggehardloop." Carlo Klaasen van Metro EMS het Swanepoel geloof vir sy reddingspoging.
Geen lewensredders
Klaasen het aan die Advertiser gesê dat die twee seuns wat op die strand bygebring is ná die voorval, op Sondag, 16 Februarie nog steeds in die intensiewe sorgeenheid in George was. Volgens inligting is geen lewensredders naweke of deur die week aan diens op Diasstrand nie, terwyl De Bakke- en Santosstrand naweke lewensredders aan diens het.
Swanepoel, het aan die Advertsier gesê dat hulle weekliks kinders en selfs al in die aand swemmers wat in die moeilikheid beland het, uit die see gehaal het. "Meeste van die voorvalle gaan ongemerk verby."
Volgens Dirk Steyn, een van die direkteure van die Diaz Waterpark, beplan hulle om met behulp van die gemeenskap te kyk of hulle minstens twee lewensredders op 'n permanente basis op die strand kan plaas om voorkomend op te tree.
Mariaan van Heerden en haar broer was een van die familielede wat die drenkelinge gered het.
Anna-Marie Kumm en haar verloofde Neville du Preez wat gehelp het om die vyf drenkelinge uit die water te haal.
André Swanepoel, gekwalifiseerde paramedikus en lewensredder by Diaz Waterpark word beskou as 'n held.
Francois van Heerden het ook een van die drenkelinge uit die water gehaal.
Chiné van Aarde, vakansieganger van Swellendam wat die seun uitgehaal het nadat een van sy maatjies bo-op hom gesit het in die water.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'