MOSSELBAAI NUUS - Die Mossel Bay Advertiser het op Vrydag, 11 Februarie 'n kennisgewing geplaas waarin beweer word dat ds Kobus van Zyl wat aan die Reebok-gemeente verbind is, uit die bediening tree.
Die Advertiser het die kennisgewing vanaf 'n sogenaamde betroubare e-posdres ontvang en het ook met die skrywer daarvan gekorrespondeer.
Die Advertiser ontvang gereeld soortgelyke kennisgewings en beskou die plasing daarvan as 'n guns aan die gemeenskap. Hierdie kennisgewings word goedertrou geplaas.
Daar was geen rede om die inligting wat oor die sogenaamde aftrede verskaf is te bevraagteken nie.
Dit blyk egter of die e-posadres valslik geskep en die inligting wat deurgegee is, onwaar en kwaadwillig is.
Die kerkraad het met die koerant in verbinding getree en die Advertiser het onder meer die volgende aan die kerkraad gesê: 'Vanweë ons beroep is ons reeds van nature skepties oor die mensdom en hierdie ervaring het bloot ons vertroue in mense verder geskend. Nooit weer gaan ons onskuldige berigte uit goedertrou kan aanvaar en publiseer nie."
Kobus van Zyl
Doktor Kobus van Zyl was vanaf 1994-2000 dosent in Missiologie en Homiletiek by die Reformed Institute for Theological Training in Eldoret, Kenia. Vanaf 2000-2004 was hy verbonde aan die Hefsiba Christian Training Centre op Vila Ulongue in Mosambiek, waar hy dosent was in Missiologie, Grieks en Navorsingsmetodiek.
Sedert 1998 tot op hede is hy deeltydse dosent by die Emmanuel Christian Training Centre in Suid-Soedan.
Tans is hy predikant van die NG Gemeente Reebok, waar hy as tentmaker aan die gemeente verbind is met 'n spesiale opdrag, naamlik Missionale gebedsbediening in Afrika.
Hoewel Kobus as predikant verbind is aan Reebok-gemeente is daar drie ander gemeentes wat saam met Reebok in 'n vennootskap sy missionale gebedsbediening ondersteun. Hierdie gemeentes is Mosselbaai Moedergemeente, Albertinia en Suider-Strand in die Strand.
Behalwe sy werk in verskillende Afrika lande behels sy bediening verder dat hy landswyd gemeentes besoek. Met hierdie besoeke help hy gemeentes om gebedsnetwerke te vestig wat fokus op getuieniswerk.
Kobus woon met sy vrou Liezl op die plaas Welbedacht waar hy grootgeword het.
'n Belangrike deel van sy bediening is skryfwerk. Hy is outeur van vier verskillende publikasies.
Toekomsplanne
'Wie ookal die bron is van die vals inligting onder die opskrif "Sending dominee tree uit bediening" het dit ver mis. Hierdie dominee is nog lank nie klaar nie," sê Kobus.
"Hoewel die artikel 'n goeie idee het van wie ek is wil ek net vir die rekord 'n aantal korreksies aanbring. Uit die aard van die saak verlaat ek nie die bediening nie. Ook het ek nie die buitelandse veld verlaat sodat my "kinders in Suid-Afrikaanse skole onderrig kon word" nie. Ons het die veld verlaat omdat een van ons kinders gespesialiseerde mediese hulp in Suid-Afrika benodig het."
Hy sê die skrywer van die kennisgewing beweer dat hy die bediening verlaat en "wil nou sy volle aandag vestig op sy boerdery".
"Dit kan die indruk skep dat ek my eerste roeping verlaat ter wille van finansies. Omdat ek 'n tentmaker is vertrou ons gesin die Vader reeds vir baie jare om in ons finansiële behoeftes te voorsien en sal dit end-uit doen."
Kobus van Zyl en sy vrou, Liezl.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'