MOSSELBAAI NUUS - Dr. André Smith (53) se pad in die onderwys het in 1997 begin. In 2024 het dié pad hom na Mosselbaai se Laerskool Park gelei.
Op 1 Oktober sal dit presies 'n jaar wees sedert hy sy plek as hoof by die Parkies ingeneem het.
Hy beskryf dit as 'n voorreg om hier hoof te wees - en dit nog in so 'n mooi omgewing, omring met berge en see.
"Die mense se vriendelikheid is ook baie aangenaam. Ek kom van 'n plattelandse omgewing en ervaar dieselfde openhartigheid hier."
Smith is in Noordwes se Rustenburg gebore, maar het in Randfontein, Gauteng grootgeword en aan Hoërskool Goudrand gematrikuleer.
Vir sy universiteitsloopbaan is hy weer terug na sy geboorteprovinsie. Op Potchefstroom het hy studeer vir die grade BA, HOD, B.Ed Honneurs, M.Ed en PhD.
"Ek het onderwys gekies omdat ek baie goeie voorbeelde as onderwysers gehad het wat 'n betekenisvolle verskil in my lewe gemaak het. Ek wou dit graag oordra aan die volgende geslag kinders. Ek is ook baie lief vir sport en kon met my betrokkenheid by afrigting en administrasie ook so my passie vir sport en kinders gesamentlik uitleef," vertel hy.
Hy het in die laat 90's in Nelspruit en Potchefstroom begin skoolhou.
Engeland
"Daarna het ek en my vrou vir twee jaar in Londen, Engeland skoolgehou. Na ons terugkeer het ek in Randfontein onderwys gegee, waar ek bevorder is na departementshoof."
Toe is dit die pad na Laerskool Wolmaransstad, ook Noordwes, waar hy adjunkhoof was. Daarna was hy vir 13 jaar in die Vrystaat waar hy die hoof van Bethlehem se Jordania Primêre Skool was.
En nou is dit hy en die Wes-Kaap.
Laerskool Park se hoof, dr. André Smith.
Om die ontwikkeling van kinders op alle gebiede te kan sien, hetsy akademies, buitemuurs, sosiaal of persoonlik, bly vir hom 'n gunsteling aspek van die beroep.
"Die feit dat mens bevoorreg is om deel van die ontwikkeling van die jeug van die land te kan wees is enersyds 'n baie groot voorreg, maar andersyds plaas dit ook 'n geweldige verantwoordelikheid op jou skouers."
Hy reken die onvoorspelbaarheid wat elke dag inhou is vir hom een van die grootste uitdagings wat saam met die verantwoordelikheid van hoofwees kom.
"Die feit dat jy jou dag kan beplan, maar daar op enige tyd van die dag iets kan gebeur wat 'n ommeswaai kan veroorsaak en wyse en nugtere denke verg. Dit maak hierdie beroep natuurlik ook baie interessant en ek verruil dit vir niks in die wêreld nie.
"Elke dag in die onderwys is vir my opwindend omdat dit tot nuwe moontlikhede lei. 'n Les wat ek vroeg in my lewe geleer het is om goed te beplan en elke dag alles so goed moontlik af te handel."
Kinders se eerlikheid en entoesiasme maak ook elke dag die moeite werd. Daar is so baie staaltjies en humor in elke dag, vertel hy. Soos die keer toe 'n gr. 1-seun by sy kantoor inhardloop op soek na die kantoortannie.
"Toe ek hom vra waarvoor, antwoord hy: 'Ek kom haal net ons klas se vakansieboek', bedoelende kwitansieboek."
Dr. André Smith en ’n Park-leerder by die gr. R-gradeplegtigheid.
Wees betrokke
Die eerste ding wat broodnodig is vir 'n goeie skoolresep? "Betrokkenheid!" sê hy.
"'n Hoof moet sy oor op die grond hou om 'n goeie idee te hê van alles wat in die skool aangaan, sodat daar vroegtydig aandag aan uitdagings gegee kan word."
Verder gaan dit daaroor om 'n omgewing te skep waarin alle betrokkenes gemaklik voel om hul deel te kan bydra tot voordeel van die skool. So 'n skoolkultuur is 'n absolute wenresep, sê hy.
"By Laerskool Park praat ons van die 100%-skool, wat beteken ons wil hê almal moet 100% deel wees van die span, maar verder ook alles met 'n 100%-gesindheid doen."
Vir ontspanning geniet dr. Smith 'n heel ander park.
"Ons gesin hou baie van die Krugerwildtuin en probeer elke jaar daar uitkom. Ons hou ook van staproetes in die natuur, kamp en nuwe plekke besoek.
"Verder jag ek graag, probeer soms 'n potjie gholf speel en hou van sport in die algemeen."
In rustiger tye lees hy graag en vul blokraaisels in. En oor naweke geniet hy 'n aktiwiteit vir enige plek en enige provinsie: 'n lekker braai. Hy het selfs vroeër vanjaar in sy slaapklere op die skool se dak gebraai ná leerders hul mikpunt vir lootjieverkope behaal het!
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’