Volgens mnr Johan Blou, 'n ooggetuie, het mense in die water baljaar toe 'n man, Justin Wolmerans (32) en 'n vrou, Lizaan Ismael (23) deur sleurstrome meegevoer is. "Hulle het in skouerdiepte water om hulp geroep," aldus mnr Blou. Deelnemers aan die Diaz Vasbyt het die nooddienste ontbied
Volgens omstanders was die drenkelinge van Kaapstad en vir 'n funksie op besoek aan Mosselbaai. Hulle was by 'n gastehuis in KwaNonqaba tuis.
Die Mosselbaai Brandweer en Weskaap Metro Nood Mediese Dienste was eerste op die toneel en kort daarna het die Mosselbaai NSRI opgedaag.
Brandbestryder Dewald Wentzel het daarin geslaag om die man te red. 'n Reservis brandbestryder, mnr Martin van der Mescht, en 'n vrywilliger ambulansman, mnr André Swanepoel, het die vrou na veiligheid gebring.
Volgens omstanders het 'n derde manspersoon op eie stoom uit die water gekom.
'n Ooggetuie, mnr Tom Swart, het aan die Mossel Bay Advertiser vertel dat 'n man, wat later as mnr Siphenathi Mzamo geëien is, die twee persone wat in die moeilikheid was te hulp gesnel het voordat hy self in die moeilikheid beland het. Hoewel noodpersoneel hom probeer bereik het, het hy onder die water verdwyn.
Polisieduikers is na die toneel ontbied en het na mnr Mzamo gesoek, terwyl ambulanspersoneel die twee drenkelinge op die Diasstrand parkeerarea behandel en gestabiliseer het alvorens hulle na die Mosselbaai Provinsiale Hospitaal geneem is.
Wes-Kaap Gesondheid woordvoerder, mev Nadia Ferreira, het bevestig dat die twee persone by die hospitaal se noodeenheid vir amper-verdrinking simptome behandel, maar nie opgeneem is nie.
Hoewel die polisieduikers onverpoos na mnr Mzamo gesoek het, het sy oorskot op Vrydag, 28 Februarie, om omstreeks 17:30 op Diasstrand uitgespoel.
Die SA Polisie doen tans 'n geregtelike doodsondersoek en die ondersoekbeampte is Ao Reinette Mostert van die SAPD Da Gamaskop.
Lewensredders bedank
Mosselbaai se Uitvoerende Burgemeester, Raadsdame Marie Ferreira, het aan die Mossel Bay Advertiser gesê: "Die Munisipale Raad salueer die twee vrywilliger lewensredders vir hul onselfsugtige optrede by Diasstrand. Dit is wonderlik dat julle as jongmense hiermee 'n ware omgee-gees openbaar het wat bewys dat julle mede verantwoordelikheid aanvaar ten opsigte van die welstand en veiligheid van jul medemens. Baie dankie daarvoor".
Onbemande kayak opgespoor
In 'n onverwante voorval het die Mosselbaai NSRI die afgelope naweek 'n onbemande groen, blou en geel drie-man Synergy Fluid kajak langs die kus by Pinnacle Point herwin.
Geen inligting oor die eienaar van die kajak is beskikbaar nie en, sover bekend, is geen vermiste persone aangemeld nie. Die kayak is na die NSRI basis in Mosselbaai gebring.
Die kajak is opgemerk waar dit langs die kus by Pinnacle Point gedryf het en die NSRI Mosselbaai het 'n reddingsvaartuig om 14:00 op Saterdag, 1 Maart, gestuur om ondersoek in te stel en die onbemande kajak te herwin.

Mnre Maurio George, André Swanepoel en Louis van Rensburg van die Metro Nood Mediese Dienste het drenkelinge op Donderdag, 27 Februarie, op Diasstrand te hulp gesnel. André en brandbestryder Martin van der Mescht het daarin geslaag om die vrou, wat weens sleurstrome in die moeilikheid beland het, uit die water te red.Foto: Nickey le Roux
ARTIKEL: NICKEY LE ROUX, MOSSEL BAY ADVERTISER-JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'