MOSSELBAAI NUUS - Het jy geweet dat daar tans reeds twee miljoen Chinese in Afrika woon en werk?
In ons eie omgewing is daar heelwat gesinne wat oor die afgelope jare 'n beter toekoms in Suid-Afika kom soek het.
Gedurende die afgelope paar jaar het die groep Chinese-kunstenaars tydens hul optredes by die Diasfees, Mosselbaaiers ook baie meer bewus gemaak van China.
'n Groepie Mosselbaaise gelowiges het oor die afgelope jaar of wat begin besef dat hulle 'n kopskuif oor hierdie vreemdelinge in ons midde moet maak.
Hulle is hier omdat hulle iewers, wel onwetend, deel vorm van 'n plan wat God met die wêreld het – en meer spesifiek met ons wat hier aan die suidpunt van Afrika woon.
Dis 'n wonderlike oomblik wanneer 'n mens besef dat die Vader dan die mense reguit na hierheen stuur en dat die sendingveld nie noodwendig net in China is waar gelowiges van God se genade en liefde kan vertel nie.
Sedert die begin van verlede jaar het hierdie groepie, gelowiges uit verskillende geloofsgemeenskappe, bymekaar begin kom om te bid en om saam na maniere te soek om na Chinese uit te reik en vriendskappe te bou.
Dis egter nie 'n maklike taak nie, daar is vele hindernisse waaronder kommunikasie, gebrekkige kennis van die Chinese kultuur en gewoontes, ensovoorts.
South African Chinese Outreach Network
Die South African Chinese Outreach Network (SACON), wie se hoofkantoor in Johannesburg is, het aangebied om 'n werksessie in die Mosselbaai-omgewing aan te bied vir almal wat meer sou wou leer hoe om met die Chinese te kommunikeer en hoe om prakties na hulle uit te reik.
Onderwerpe wat behandel sal word, sluit onder andere in insig in die Chinese kultuur; kennis van die Chinese godsdiensbegrip; praktiese komunikasie-idees; praktiese voorstelle om na Chinese uit te reik.
Die werksessie vind op 9 en 10 Februarie by die NG-gemeente Hartenbos in Majubalaan 4, Hartenbos plaas.
Registrasie is Vrydag, 9 Februarie om 18:30. Die werksessie duur tot om 21:00. Saterdag, 10 Februarie se werksessie vind vanaf 08:30 tot 16:00 plaas.
Die koste beloop R150 per persoon. 'n Addisionele aandprogram wat Saterdag om 18:30 begin, is 'n heerlike saamkuier om Chinese disse wat die vorm van 'n Chinese-nuwejaarsfees aanneem.
Dit kos R100 per persoon, weer eens by die NG Kerk Hartenbos.
"Ons Chinese broers en susters sal ook daarheen uitgenooi word."
Alle belangstellendes word hierheen uitgenooi. Dis werklik 'n besondere geleentheid wat niemand moet misloop nie.
Laat weet teen Vrydag, 2 Februarie as jy belangstel om dit by te woon.
Die kontakpersoon is Ena Loubser (082 736 5339 of eric.ena@vodamail.co.za).
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'