Update
MOSSELBAAI NUUS - 'n 43-jarige onderwyser van Laerskool Park het vanoggend formeel in die Mosselbaai-landdroshof om borgtog begin aansoek doen.
Dit is 'n skedule 6 misdryf ingevolge die strafproseswet. Die verdagte moet dus bewys dat daar buitengewone omstandighede bestaan hoekom hy op borgtog vrygelaat moet word.
Die verdagte staan tans tereg op 19 aanklagte wat onder meer verkragting, seksuele aanranding en die blootstelling van kinders aan pornografie insluit. Daar is tot dusver twee slagoffers wat verklarings afgelê het en wat nou reeds op hoërskool is.
Die beweerde dade het tussen 2019 en 2020 by verskeie plekke op Mosselbaai plaasgevind.
Die staat het vanoggend ‘n aansoek in die hof gebring en versoek dat die borgaansoek in camera aangehoor word. Die staat het versoek dat die publiek nie die verrigtinge mag bywoon nie, maar die media wel.
Die verdediging het versoek dat die identiteit van die verdagte weerhou word om die slagoffers en sy kinders se identiteite te beskerm.
Die verdagte is op 20 September by Laerskool Park in hegtenis geneem. Hy is sedertdien in aanhouding in die George gevangenis. Die polisie het op onder meer sy selfoon en 'n skootrekenaar beslag gelê.
Die verdediging het met die borgaansoek begin en die verdagte het verskeie redes aangevoer hoekom die hof borgtog moet toestaan.
Dit sluit in ‘n verskeidenheid van gesondheidsprobleme wat hy na bewering het, onder meer hoë bloeddruk en hoë cholesterol asook hartprobleme. Hy sukkel ook glo met ‘n rugbesering en het doktersafsprake vir onder meer dit asook sy hartprobleem wat hy graag sou wou bywoon.
Hy het ook aangevoer dat hy reeds 47 dae in aanhouding is en nog nie weer sy kinders gesien het nie. Hy het die hof versoek om borgtog toe te staan sodat hy tyd met sy gesin en familie kon spandeer en sodat hulle moontlikhede “vir die pad vorentoe" kan bespreek.
Die verdagte was by tye emosioneel en het in die hof gehuil.
Hy het ook aan die hof gesê dat hy nie toegang tot tegnologie in die aanhoudingselle het nie, en dat hy graag tyd sou wou kry om met sy regsverteenwoordiger te konsulteer.
Hy het gesê die omstandighede in die tronk is nie ideaal nie en dat hy onder meer blootgestel word aan mede-aangehoudenes wat glo Tik rook.
Advokaat Gerda Marx, vir die staat, het die verdagte se beweerde gesondheidskwessies bevraagteken. Sy het dit aan hom gestel dat hy sy medikasie in die aanhoudingselle kan gebruik en nie nodig het om huis toe te gaan om die regte behandeling te ontvang nie.
Besonderhede van die slagoffers se verklarings is ook in die hof bespreek en plekke waar die beweerde dade glo plaasgevind het sluit in ‘n kerk en ‘n woonstel.
Die saak is uitgestel na Woensdag en sal om 11:00 hervat.
Vorige artikels:
- Slegs media mag onderwyser se borgaansoek bywoon
- Landdros siek, onderwyser se borgaansoek weer uitgestel
- Onderwyser vanoggend in hof
- Onderwyser se borgaansoek uitgestel
- Onderwys departement loods ondersoek na onderwyser se inhegtenisname
- Onderwyser bly in aanhouding tot borgaansoek
- Onnie vas vir beweerde verkragting
- Laerskool onderwyser vandag in hof
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’