MOSSELBAAI NUUS - Na afloop van die onlangse reënval, het 'n gegriefde inwoner inwoner van Bayview opnuut sy misnoeë te kenne gegee oor die gewraakte Transnet-olieputte.
Volgens die inwoner loop die olieputte met elke redelik reënbui oor en vloei olie dan na die sogenaamde Stinkrivier van waar dit in die see beland.
"Ons as Bayview-inwoners kla al baie jare oor hierdie probleem en daar was al by verskeie geleenthede van omgewingsake se rolspelers op die terrein. Ongelukkig kom hierdie probleem herhaaldelik voor."
Hy het 'n foto aan die Mossel Bay Advertiser gestuur waarmee hy beweer dat van die klippe in die omgewing al swart gekleur is, vermoedelik deur die olie. Ook 'n video wat hy verskaf het wys hoe die olie saam met die reënwater na die rivier vloei.
"Ek wil nie eers probeer dink hoeveel skade al aan die omgewing gedoen is oor hierdie aanhoudende probleem nie. Ek woon nou 31 jaar in Bayview en toe ek hier ingetrek het aan die begin van 1990 was die Stinkrivier vol vis en garnale. Die rivier is tans steriel.
"Die eenvoudige vraag is, sou ek ou olie op enige munisipale eiendom gaan stort, wat gaan met my gebeur? Transnet besoedel al jare die Mosselbaai-munisipaliteit se stormwaterkanale. Wanneer gaan daar opgetree word teen Transnet?" het die gefrustreerde inwoner gesê.
Op privaateiendom
Die Mosselbaai-munisipaliteit het by navraag gesê, dat die aangeleentheid weer eens onder die relevante owerhede se aandag gebring is.
Die olieputprobleem is op privaateiendom van Transnet. Sover bekend, is daar volgens die munisipaliteit, tot nog toe geen bewyse van besoedeling van óf die rivier, óf die see nie.
LEES: Progress with cleaning up hydrocarbon spill at last
"Die wettige eienaar het onder toesig van die relevante owerhede, in die mees onlangse voorvalle deeglik opgeruim. Die munisipaliteit kan nie op privaateiendom remedieer anders as om die relevante owerhede in te lig en te versoek om hul verantwoordelikhede nougeset na te kom nie," het Nickey le Roux, munisipale woordvoerder berig.
Tot dusver, is die departement omgewingsake betrek om te verseker dat die grondeienaar die probleem na wense hanteer.
"Mosselbaai-munisipaliteit is aan wetgewing en regulasies onderhewig en moet binne die raamwerk daarvan optree, veral gegewe privaateiendom."
Dit is onder die Advertiser se aandag gebring dat die departement omgewingsake korrespondensie aan Transnet gerig het waarin hulle opdrag gegee is om die probleem aan te spreek. Die Advertiser het ook verneem dat die munisipaliteit, op grond van die onlangse swaar reënvoorspelling, proaktief opgetree het deur Transnet te versoek om die olieputte te monitor, sou dit vanweë neerslae weer oorloop.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'