Gallery Video
MOSSELBAAI NUUS EN VIDEO - Die speaker van die Wes-Kaapse provinsiale parlement, Masizole Mnqasela het op 23 September besoek afgelê by Ridgeview Primêre Skool as deel van die skoolskoenprojek wat deur die Wes-Kaapse regering van stapel gestuur is.
Die geleentheid is deur personeel en skoolhoof van Ridgeview Primêre Skool en plaaslike raadslede bygewoon. Die Wes-Kaapse minister van landbou, dr Ivan Meyer, het ook 'n verrassingsbesoek aan die skool gebring.
Die projek is in samewerking met Youth4Life en Samaritan's Feet South Africa en 'n groot aantal skoene is by skole uitgedeel tydens die besoek aan die Tuinroete.
Mnqasela het gesê dit gaan nie oor die skoene nie, maar wel dat sade van hoop gesaai word veral in die moeilike tyd van Covid-19.
Die leerders se ou skoene is deur die speaker, raadslede en onderwysers uitgetrek, die leerders se voete is gewas en die nuwes is vir hulle aangetrek.
Fotogalery: Minister besoek Ridgeview Primêre Skool
Persoonlike gesprekke is met die leerders gevoer en onder andere gevra wat hul eendag wil word. Janico McCarthy, graad 3-leerder wat deur Mnqasela hierdie vraag gevra is, het gesê sy wil die president word wat Mnqasela laat skater het.
Kyk 'n video hieronder:
Dr Meyer is met sy aankoms ook ingespan om 'n kind se skoene aan te trek.
Tydens Mnqasela se toespraak het hy gesê dat 'n kind uit die skoene sal groei, maar sal nooit die ondervinding vergeet toe belangrike mense met hulle gepraat het en hul voete gewas het nie.
Hy het ook gesê dis 'n geleentheid om te droom.
"Dit is altyd moontlik, maak nie saak wat jou omstandighede by die huis is nie. Maak nie saak wat jy deurmaak nie. Môre is altyd beter as gister."
'n Paar skoene maak miskien nie 'n verskil nie maar die ondervinding sal nooit vergeet word nie. Foto: Jannie du Plessis
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'